Hi, lovey,
Dis soos ons mekaar al meer as veertig jaar lank groet, oor die telefoon, as jy by die huis kom van die skool af, en elke oggend vandat ons getroud is, 38 jaar gelede.
Gisteraand, toe jy my uitvat na Die Loods toe vir ʼn drie jaar kWV'tjie (my favourite tipple) het ʼn vrou jou gebel en aan jou gesig kon ek sien dit was serious business, en sy het my vandag teruggebel, soos jy gesê het sy sal. Hulle doen dit sommer oor die foon. Soos jy gesê het.
Ons het nou altwee aftreeouderdom bereik, en jy weet old writers never die, they just fade away silently between the yellowed pages of some dank and dusty book, maar jy tree af en ons gaan Velddrif toe volgende jaar Julie, waar ek gaan skryf en jy gaan kook en DSTV kyk. Ons vissershuisie staan dakhoogte op Vellerif, en as die skool jou tienuur die afskeidspaartie gee, staan Sampie en Klein Sampie se agt ton treklorrie elfuur voor die voordeur hier. Agt ton, om al my papiere en boeke te karwei. Relax, lovey, dis darem nie so erg soos Prof Nienies s'n nie; hy het twee 20 ton-trokke nodig gehad om sy hele boekerasie met die Ex Libris-plakkers voor in na Libricellae toe te vat. Ag, maar jy het al geleer om saam met my en my papiermanie te leef, jy sal net soos gewoonlik jou pad oopploeg tussen stories that has been en stories to be. Elkeen van daardie stukkies papie, gescribblede dialoog en snatches temas is ʼn boek in wording en Dirk erf eendag die hele kaboedel net so, Ma Toek se goed ingesluit!
So van erf gepraat. Die vrou het toe vandag teruggebel en binne tien minute was alles afgehandel, telefonies soos die advertensie op TV sê. Easy Peasy, om die walglike uitdrukking van daardie bloedjong klein prokureurtjie wat die rol van Errol op 7de Laan speel, te gebruik. Yuck!
Ons het nou begrafnispolisse. Ek is vanoggend elfuur finaal gekonfronteer met my eie mortaliteit, met jou mortaliteit. Ons sal heelwaarskynlik altwee oorstap na ʼn hoër hemelse dimensie aan ons wankelmoedige harte, as die emfiseem jou nie eerste beetkry nie.
As ek eendag hierdie claims nommer wat hier voor my lê moet bel, sal dit beteken dat jy dood is. As jy hierdie claims nommer wat ek vir jou in my telefoonboek geskryf het moet bel, beteken dit dat ek dood is. As die kinders dit moet bel, beteken dit dat ons altwee saam dood is. Daarmee kan ek saamleef (Oi, vey!). Maar alleen agterbly? Nee.
So, lovey, ons kom al baie lewens saam, soos jy weet. Ons sal weer saam wees, soos jy ook weet. Maar intussen, intussen sal ek net een week vat na jy weg is om alles uit te sort en al ons goed uit te dish vir die kinders, en dan volg ek jou. Nie soos my groot pêl en ʼn bekende muzo eergister gesê het nie ... as hy voel dis nou tyd, as die pyn te erg en te ondraaglik word, sal hy sy oudste kar vat, want hy los die nuwes vir sy vrou en kinders, en na die mooiste plek wat hy van weet toe ry. Op pad sal hy by ʼn winkel stop en vyf liters goeie roomys en ʼn plastieklepel koop. En dan sal hy daar op die mooiste plek parkeer, sy laaste briefie skryf, en voor hom uitkyk, en al die roomys opeet, en wag vir die koma ...
Ek hoef maar net op ons bed te gaan lê, en te begin huil oor jou. My hart sal die feit dat jy vooruit is nie kan handle nie, nie met net 18 persent hartfunksie oor nie. Mens kan jou maklik doodhuil, weet jy? Ek sal dit bewys. Maar tot die oproep vir die begrafnisondernemer gemaak word, is jy nog by my, en ek by jou. So let it be written, so let it be done. Wat meer kan ek vra? For this is heaven on earth, waar jy is.
Go well, my love.
Lee


