Daar is seker baie Koos van der Merwes in SA, maar ek ken net een en hy's ʼn doodgoeie snaakse ou. Hy't ook gesorg vir ʼn benoude oomblik vir die toergroep waarmee ons in Sjina getoer het ʼn paar jaar gelede.
Ons was 40 Suid-Afrikaners wat deel was van ʼn internasionale groep wat vier busse volgemaak het. In Beijing was ons bus se toerleier Michael, ʼn Sjinees wat vir seker uit die weermag ontsnap het. Nou kyk, Sjinese is onder normale omstandighede nie baie vriendelike mense nie, en hierdie ou wou daardie image glad nie skade aandoen nie.
Hy het die reëls uitgeryg. Jy moet sy vlaggie wat aan die punt van ʼn stokkie gewapper het wat hy in die lug hou sodat ons hom kan sien, ten alle tye volg en as jy wegraak, gaan hy jou nie soek nie. As jy nie op die afgespreekte tyd op die bus is nie, hy wag vir niemand. Twee van ons vriende het vier ure geneem om terug by die hotel te kom nadat ons bus vir hulle weggery het by die Forbidden City. Een oomblik was Michael se vlaggie nog daar en die volgende oomblik was hy weg. Hulle het nie besef dat ons met trappe afgegaan het om onder deur die pad te loop tot aan die oorkant nie. Hulle het nie geweet hoe om Century Hotel in Sjinees te sê of te skryf nie.
Toe ons by die Groot Muur kom, het Michael kwaai verduidelik dat ons moet onthou dat as jy op en op en op geklim het, kan jy nie met ʼn sirkelroete terugkom nie, jy moet omdraai en terugkom soos jy opgegaan het. Dit neem ʼn lang tyd om op te klim, so jy moet jou tyd dophou sodat jy betyds terug kan wees, anders ry die bus vir jou weg. Ek en Koos se vrou het net geklim tot halfpad, omdat dit vrek warm en die humiditeit hoog was en het by een van die blokhuise gesit en wag vir die ander om weer af te kom. Jy weet mos hoe ʼn vrou maak, sy lees hom die Leviete voor: "Koos, onthou jou hart, moenie te ver gaan nie, jy't nie jou hoed op nie, die son is warm ..."
Na so twee ure het my man teruggekom en Koos was skoonveld. My man verduidelik toe dat Koos blykbaar bietjie verder wou gaan.
Ons was almal terug by die busse en Koos was nêrens. Ons was te bang om vir Michael te sê en het maar gebid dat ou Koos net sal opdaag voor die bus ry. Koos se vrou was buite haarself van bekommernis. Sê nou Koos het ʼn hartaanval of iets oorgekom en daar's niemand naby nie? Die volgende oomblik hoor ons ʼn geroep om hulp uit die lug uit. Almal kyk verbaas op en daar, drie verdiepings bo ons met sy kop so tussen ʼn opening in die bakstene deur wat soos ʼn kasteel se muur gebou is, sien ons Koos se bekommerde rooigeswete gesig. Hy het ʼn sirkelroete geneem, maar die sirkel is drie verdiepings hoog met geen trappe na onder. Mevrou Koos het glad nie gedink dis snaaks nie en Michael nog minder. Hulle moes ʼn voertuig kry en ry na die naaste afkomplek, en ʼn gids opstuur om Koos te wys hoe om onder te kom.
Toe Koos met sy vrou herenig, was sy so kwaad van blygeid dat sy die hele rit terug glad nie met hom gepraat het nie.
Vega


