Ons verhuis vanaf die plaas na die dorp. Plaas is verkoop. Die plaas is in die pad van ‘n nuwe pad. Daar is genoeg geld om ‘n dorpshuis te koop. Aan die kant van die dorp. Vir ons kinders verander die lewe nie veel nie. My Pa huur terstond ‘n stuk veld langsaan en vroegoggend melk en spit en dinge doen is steeds daar. Net op ‘n ander plek.
In die stuk veld is daar gruisgate waar delwers jare gelede probeer delf het. Moed opgegee. Die veld is egter vol hobbels en gate. Lekker plek vir twaalfjariges om te speel.
Sit drie van ons op ‘n krans en bedink die kwade. ‘n Klompie dorpskinders duik van iewers op en speel met stokke. Lyk lekker en ons drie suiker nader.
Ons Engels was nou nie geweldig nie maar ons maak hulle verstaan dat ons wil saamspeel.
“Wat doen julle?” vra J want hy was maar altyd die een wat ‘n ding begin het.
“We are fighting … with swords …” Dit blyk ‘n klompie Engelse kinders te wees wat die gruisgate gebruik om hulself met houtswaarde te vermaak.
Ons ken natuurlik nie van swaarde en so nie.
“Swords like in flieks? Daai tings looks like sticks.”
“No. These are swords you stupid Dutchman!”
“Ons nie Dutch nie.”
“O yes? So what are you?”
Ons kyk na mekaar. Dis nou een van daai vrae wat hierdie drie plaasjapies nog nooit bedink het nie. Dis die eerste keer dat iemand ons vra “wat” ons is. En dan dink die bliksems nog ons is Dutch. Wat dit ook al mag wees.
“Dink jy hulle soek kak?”
“Ja, dit klink so. Maar ek is nie seker nie. Hulle dink ons is Dutchers.”
“Wat is ‘n Dutcher? Is hulle dom of vloek hulle ons?”
“Wel, hulle is Engels. Dit lyk of hulle stokveg.”
“A! Lekker!”
“It matter not we just want to play wif you.”
“Do you have swords?”
“Nee, but we can sommer gets easy.”
Die lot lyk huiwerig en mompel onder mekaar van dutchies wat soek om uitgesort te word. Ons is totaal naïef onbewus daarvan en is heel gelukkig om elk gou twee stewige vegstokke te sny.
Ons neem stelling in so ‘n paar meter van mekaar af en een gil skielik, “Allez!”
Ek wou nog vra wat hy sê toe steek hy my met sy stok in myse ribbes!
Met die spring ons aanmekaar. Ons word aanvanklik effens onverhoeds betrap want hulle steek sulke kort stekies onder onse ribbes in.
Stokveg soos ons dit ken, is nie ‘n steekgedoente nie. Dis bliksem. Weet dit van stokgeveg. Jy bloei. Jou kneukels en kop is hoofteikens. As jy ‘n lekker hou teen die flanke inkry sak jouse opponent dikwels sy arms want dit brand vir die vale hel. Syse kop is dan oop en jy moer!
Ons het werklik gedink hulle weet van.
Sekondes later het ons te doene met bloeiende koppe en seuntjies wat huilende in alle rigtings spat. Die gruisgate raak stil. Ons het ‘n vermoede ons is in die sop.
Die aand roep my pa ons nader. Nou hy het in sy lewe nie juis aan ons gevoeter nie maar mens weet nooit.
“Mense bel my. Ma’s.”
Ons sê niks. Ons vermoede was in die kol.
“Skuus pa.” En ons vertel hom die storie.
“Nou is julle bedonderd!? Die dorpskinners weet mos nie van nie!”
“Skuus pa. Ons sal nie weer nie.”
“Hm.” Hy kyk ons. Dan draai hy om en ek hoor hom daar agter in die kombuis lag.
Die gruisgate behoort van toe af aan ons.
HJ


