Bokomo-brekfisbrief; 20/05/2010: Die Rooi Masjien

  • 0

Ek hou van koffie. Gewone koffie. Sonder aanmaakselgeure of fieterjasies. Egte regte koffie. My vrind Andries maak lekker koffie in sy koffieshop. Maar dis nie my koffie nie. Ek soek van my eie. Ek is soortvan besitlik in die rigting.

Bottelkoffie doen dit nou eenvoudig nie vir my nie. Daar is altyd so ‘n plastiekerige nasmakie. Of ‘n geurseltjie wat maar net nie pas nie.

Ja, ek weet die boon het ‘n ryke geskiedenis. ‘n Lang pad. Vanaf ongeveer 1000 vC uit iewers uit Ethiopië. Oorlewering wil dit hê dat ‘n bokwagter by name Kaldi gesien het dat sy bokke die bone vreet. Hy probeer ook want wat ‘n bok kan vreet kan ‘n bokwagter ook eet. Na hy ‘n paar bone verorber het voel die mannetjie sommer reg vir ‘n ding! Pure bok! Dit is waarskynlik sommer ‘n storie. Nie regtig ter sake nie want dit gaan oor MY koffie.

Ek het baie maniere probeer. Gemaal en gemeng en gekook en gebrou. Na baie raad geluister en besef dit is soos tabak meng. Elke pyproker sweer by sy eie. (Ek hou byvoorbeeld van my pyptabak met so ‘n bietjie boom by.)

So besluit ek, ek gaan vir my ‘n ordentlike masjien aanskaf. Ai, wat ‘n soektog.

Toneel: Groot winkel. Baie koffiemasjiene. Lyk almal soos iets wat op Star Trek hoort. Elektronies digitaal. Met kennisgewings oral soos, “Ons sit nie net lood in jou potlood nie ons druk ‘n pit in jou tuit.”

JUFFIE: ‘Kan ons help meneer?’

EK: ‘Hm. Ek soek ‘n ordentlike koffiemasjien.’

JUFFIE: ‘Watse soort het meneer in gedagte.’

EK: ‘Die soort wat koffie maak.’

JUFFIE: (Effens vererg.) ‘Hulle maak almal koffie meneer. Sien …’

En sy begin beduie van hoe jy die koffiemasjien se rekenaar programmeer om nou die sterkte en geure en mates en stoom en …

EK: ‘Juffie, ek soek ‘n gewone masjien. Jy weet die een wat jy met die hand bewerk.’

Sy babbel voort. My liefie sien dat ek my begin vererg en loop eenkant toe. Ek kyk rond. Sien doer hoog op ‘n rak ‘n eienaardige kontrepsie. ‘n Rooie.

EK: ‘Wat is daai. Daar hoog. Daai rooie.’

JUFFIE: ‘Meneer dis ‘n ou koffiemasjien. Staan al jare daar. Niemand wil dit koop nie.’

EK: ‘Hoekom nie?’

JUFFIE: ‘Dis outyds meneer. Te retro. Te groot. Te moeilik. Lelik.’

EK: ‘Haal af.’

JUFFIE: ‘Meneer sien hierdie ene druk jy net die knoppie en …’

EK: ‘Haal daai rooie af.’

JUFFIE: ‘Meneer …’

EK: ‘Juffie wat is jou se naampie?’

JUFFIE: ‘Karin meneer.’

EK: ‘Nou Karin, ek gaan nie een van die bliksemse rekenaars koop nie. Haal af daai rooi ding sodat ek na hom kan kyk. Seblief?’

Sy roep na ‘n mannetjie en saam worstel hulle die gedoente van die rak af. Daar is naderhand drie van hulle besig.

Vol stof en taai. Van staal! Dik, swaar, staal! Met bulte en meters en pype. En ‘levers’! En Rooi. Iets tussen ‘n posbus en ‘n stoomenjin rooi.

EK: Wat kos hy!

JUFFIE: Meneer ons weet nie of hy werk nie!

EK: Hy sal werk. Ek maak hom werk. Mens kan sien hy wil werk! Prys!

Sy wikkel daar weg. Die bestuurder van die plek kom nader. Hy reken as ek die ding wil vat moet ek maar ‘n prys maak. Die ding is lankal van die boeke af. Staan net die plak vol. Wat ek uiteindelik betaal het, is nie belangrik nie. Ek en my rooi masjien en natuurlik my liefie ook, kies koers huis toe.

Ek haal hom uitmekaar. Maak skoon. Draai pype vas. Ek koppel hom. Aan sy water en aan sy kragte. Na sy wese en na sy aard. Maal van my beste Arabica. Ek huiwer ‘n oomblik en my liefie staan so ‘n tree terug. Ek trek sy ‘lever’! Die Rooi Masjien mor en grom en sug en bou sy stoom en sy hitte. Sy meters bewe en klim en klim. Dan raak hy stil en sug elke sekonde of twee ‘n stoomsuggie by sy “safety valve” uit.

Versigtig nou. Die koppie onder die tuite en trek nog ‘n lever. Sy Rooi Hart klop met diepe reëlmaat en twee perfekte muissterte koffie skuim donker uit die tuite uit!

Ek vat ‘n sluk.

Ag, jirrikie tog! Regte pitkoffie wat stink na perrekak, iets tussen muf en modder en wortels en diep aarde. Donker. My ROOI MASJIEN!

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top