Bokomo-brekfisbrief; 20/04/2010: Wonderwerke gebeur nog

  • 0

Onlangs het 'n man hier vertel van hulle African Gray wat weggevlieg en wat hulle later by die agterdeur aangetref het. Wel, 'n soortgelyke voorval het ons vandag (Sondag) getref.

Ons sit almal by die agterdeur en Rocka sit soos gewoonlik op Jacques, 'n inwonende huisvriend en die persoon aan wie hy die gehegste is, se skouer. Rocka se vlerke is nie geknip nie, want in die drie jaar wat ons hom het het hy nog nooit probeer wegvlieg nie. Hy is baie huisgebonde en van nature 'n vreeslike senuweeagtige papegaai en bang vir enigiets wat vreemd is.

Maar dis onweer en die volgende oomblik is daar 'n donderslag en toe ons weer sien, vlieg Rocka verskrik van Jacques se skouer af. Ons dag hy sal weer terugkom of iewers gaan sit, maar hy bly vlieg en terwyl ons groepie hom verslae dophou verdwyn hy so twee kilometer verder agter digte bome in die omgewing langs die rivier. Die seuns klim dadelik in die bakkie om na hom te gaan soek, maar ek het min hoop dat hulle hom sal vind. Daar is ten minste drie strate tussen ons en die rivier, met baie huise, honde, kanale, digte bosse en groot bome.

Ná sowat drie ure se soek keer hulle moedeloos terug omdat dit begin reën en nog later hael. Van Rocka is daar geen teken. Die probleem is die gebied is eenvoudig te groot om so 'n klein diertjie te soek. Ek is siek van bekommernis, want ek weet hoe bang hy vir swaar weer is. Ek besef ook hy kan nie op sy eie in die natuur oorleef nie. Ek bly wonder hoe lank hy gaan swaarkry voor hy van honger doodgaan of dalk deur ander roofdiere of voëls verslind gaan word.

Ek is nie 'n vreeslike godsdienstige mens nie, maar ek besef ek het hulp nodig, anders kan ons vergeet om ons geliefde papegaai ooit weer te sien. Dus bid ek en ek smeek die Here om ons te help om hom asb weer te kry.

Nadat die haelbui verby is, gaan die seuns terug rivier se kant toe. Op pad soontoe wonder hulle nog waarnatoe nou, waar kan hulle nóg soek, toe Jacques skielik sê: "Hou stil." My seun vra of hy Rocka gesien het. Nee, sê Jacques, maar hy weet net hy is hier rond. En sowaar, die oomblik toe hy uit die bakkie klim toe hoor hulle Rocka se bekende roepgeluidjies, in 'n groot blaarryke boom 'n entjie van waar hulle stil gehou het! As hulle nie stilgehou het nie, sou hulle hom nooit gesien het nie.

So, ek het nuus vir al die ongelowiges. Gebed kán help. En wonderwerke gebeur werklik nog. Glo net hard genoeg daarin.

Groete,

Ina

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top