Babs vertel vir my annerdag van die naweek wat hy in die bosse en berge moes spandeer. Koud en nat en sonder kos en min water. Hy vloek dik stukke want hier in Oesterland is spoorsnyers mos skaars en as hulle iemand soek wat weet hoe ’n spoor werk dan moet hy verdomp, net sodra hy lekker warm gelê is op en uniform aantrek agter een of ander sot wat kak gemaak het aan. Maar Babs kla eintlik nie regtig nie, want hy is een van daardie manne wat kleintyd, toe die ooms hom gevra het wat hy wil word geantwoord het: "’n Poliesman, Oom". En nou, na soveel jare steeds een is. Al is die betaling so swak.
Die oproep het gekom laat die nag of vroeg die oggend (die tyd is nie ter sake nie): Hiers moeilikheid. Die manne wat wil oorlog maak, jy weet, DAAI manne ... die manne wat so bymekaar maak vir die nag van die lang messe ... Die vermoede: Hier is wapens van "mass-destruction" iewers gebêre want die berigte klink nie goed nie. Babs suiker dus toe af die vlaktes en later berge in op soek na die opslagplek.
Hy beduie al vloekende van die dag en nag en nog ’n dag wat hy moes spoorsny na hierdie hengse opslagplek. "Jy onthou mos nog hoe kak dit is om met nat boots te probeer slaap? Herre, g’n mens kan mos slaap as jou voete koud is nie!" En dan word die gesprek mos so tussenin verander na staaltjies of ervaringe uit die ou dae van die bos en nog wat.
Babs beduie dat hy eintlik die opslagplek moes gemis het, want as dit is hoe mense voorberei vir die nou bekende nag, dan is daar nie veel hoop nie: ’n Klein oliedrommetjie vol .308-rondtes en ’n spul 9mm-rondtes en ’n ou, geroeste ou 9 mil. In totaal skaars 3000 rondtes. O, en ’n ou bajonet. Wat lyk of hy dalk iewers in ’n oorlog ’n Pommie of iemand kon dood. Maar dit moes lank gelede wees, want die ding is erg geroes.
Maar dis nie die eintlike storie nie. Dis hoe hulle op die opslagplek afgekom het wat mens laat wonder:
Want sien, die manne en maninne wat so bekommerd is het mos maar met die tyd saam bymekaar gemaak. Kos, lampolie, kerse die lot. Elkeen se noodpakkie toegebind met koukiepen die naam opgeskrywe wie s’n dit nou eintlik is. Alles verpak in twee skeepsvraghouers. In die middel van die dorre karoo met sy son wat nie genade betoon nie. Probleem is nie die roes soos hier in Oesterland nie. Probleem is die hitte.
Hulle sê die plaaswerkers het met die eerste plofslae gedink die oordeelsdag is nou hier, en daarom het hulle maar laat weet dat mense in die klowe besig is met bomme gooi of om mekaar dood te skiet. En die Polieste laat kom. Babs sê toe hulle die eerste skeepshouer oopmaak dit regtig soos ’n slagveld gelyk het. Want sien, die blikkieskosse het, na die jaar of twee in die warme son meegeggee. Tien teen een eers behoorlik gegis en toe laat loop. Hulle het die spulletjie ondersoek vir ploftoestelle (dis nou, die werklike soort) en weer toegemaak. Vir die oordeelsdag.
Hy sê annerdag vir my hy hoop vir die Suidlanders se part daardie nag breek nie aan nie, want van hul kosvoorraad is nie veel oor nie. Die duike in die skeepshouer is ’n goeie aanduier daarvan. Ten minste het die kerse nie veel oorgekom nie. Welliswaar gesmelt, maar mens kan mos weer ’n kers maak van die was. Vir die nag sien. Daardie nag as dinge so donker is en die maan dalk nie opkom nie.
oester


