Liewe SêNetters
Douwleen en ander se skrywes oor hul onderwysers het ’n klompie van ons darem ver laat terugdink aan die goeie – en minder goeie! – ou skooldae. Daardie karakters was mos groter as lewensgroot vir ons as kinders. En skielik is ek weer terug in die laerskool, toe die legendariese ou Bok vir twee kwartale ons klasjuffrou was. Wanneer sy die klas ingemarsjeer het, was almal doodstil ... en vrekbang. En álmal het gesorg dat hulle hul huiswerk ken. Die ongelukkige drommel wat dit gewaag het om ’n verkeerde antwoord te gee, is summier met ’n swartbordborsel gegooi, sonder om die teiken elke keer te tref – een van die onskuldiges het gewoonlik met ’n knop op die kop huis toe gegaan. Maar van die voorste ry tot heel agter, het almal geweet wanneer hulle vir die vaal hel moes koes!
Ou Bok was getroud met die prinsipaal van die hoërskool. Sy bynaam was Kool, rêrig. Ons kinders kon dit nooit verstaan hoe hulle gelukkig kon wees nie, het ou Kool skoon jammer gekry oor daardie rissiepit-vrou van hom.
Op hoërskool het ou Bok slaggereed gestaan om die Duitse taal vir vyf jaar in ons in te dril. As sy ’n vraag gevra het, moes jy opspring en antwoord. Soes, ’n klasmaat, het soms ’n bietjie stadig orent geslinger uit die skoolbank, dan het ou Bok hom een vuil kyk gegee en met ’n swaai van die arm laat hoor: "Aag, gaan vrek man!" Soos julle kan aflei, het sy nie juis haar woorde getel nie.
So het ons haar eers as onderwyser, maar ook as mens geleidelik beter leer ken. Sy het ons gemáák luister. Haar manier van lesgee was uit die boonste rakke. Een en almal het begin uitsien na die Duitse klas, ons was selfs jammer as ’n periode verby was. Die vrees vir haar ál minder, die respek ál groter.
Toe word ou Kool dodelik siek en nie een van ons het geweet hoe om dit te hanteer nie. Die kommerlyne op haar gesig het duidelik gewys, maar sy't dapper volgehou met haar klasse. Elke oggend vroeg het ek van ons balkon af oor die dakke in die rigting van hulle huis gestaar, en gebid dat ou Kool tog asseblief gesond moes word. Teen daardie tyd het ons almal besef hoe lief sy hom gehad het.
Ou Kool se sterfdag was ’n donker dag vir die hele Senekal-gemeenskap. Ek het ou Bok nooit gesien huil nie, maar geweet hoe stukkend sy was. En hoe verbitterd. My ouers het gedoen wat hulle kon om haar deur daardie stadium te help, haar amper gedwing om by hulle te kom teedrink of saam iewers heen te ry, of om haar te laat práát. Op ’n keer het sy vir my ma gesê: "Ja, daar sit Jurie met sy gat tussen die engeltjies en hy los my hier om alleen aan te sukkel."
Stadig maar seker het ou Bok deur die rouproses geworstel en steeds op haar unieke manier voortgegaan met die Duitse klasse. Een van ons voorgeskrewe boeke vir matriek was Albert Schweitzer se Zwischen Wasser und Urwald, oor sy werk as sendeling-dokter in Lambarene, die verskillende siektes wat daar voorgekom het, oor sy liefde vir alles wat lewe. Ook oor sy geloof. Dit was asof Schweitzer se lewensuitkyk op ou Bok ingewerk het. Asof sy ’n sagter mens begin geword het.
Vir jare daarna, as enige oud-skolier van haar in Senekal aangekom, of net deurgery het, was dit ’n móét om haar te gaan opsoek vir ’n geselsie. Sy het verander van ou Bok na tannie Christie, iemand wat steeds in haar oud-leerlinge belanggestel het en vir wie hulle lief was.
Hoe het hierdie verandering plaasgevind? ’n Paar jaar voor haar dood diep in die negentig, het sy by familie in Bloemfontein gaan kuier, maar tussen Winburg en Brandfort gooi sy ’n u-draai en jaag terug na die ouetehuis in Senekal. Daar aangekom, wou hulle weet waarom sy dan terug is. Sy't net gesê sy't vergeet om haar Bybel saam te neem, dis haar kompas, sy ry nêrens daarsonder nie. Toe vat sy weer die pad na Bloemfontein.
Vandag, so glo ek, is sy saam met haar geliefde Jurie tussen die engeltjies ... en niemand sou verbaas wees as hulle in ’n kring om haar sit vir ’n Duitse klas nie!
Auf Wiedersehn, tannie Christie, ons mis jou
Ellen Botha
NS Charles Malan, onthou jy?


