Bokomo-brekfisbrief; 19/12/08: Tuinslange!

  • 0

Ek wil hiermee werklik opreg bely dat dit my vaste voorneme was om nie toe te tree tot die bespreking oor tuinslange nie. Na Swys se repliek van gister het die begeerte om ʼn eiertjie te le my egter heeltemal oorweldig omdat ek ook op ʼn daaglikse basis die onhebbelike weerbarstigheid van ʼn etterse tuinslang aan eie lyf voel.

Nou neem ek waar dat daar gedagtes is dat mens nie eintlik oor iets moet besin as die definisie daarvan nie duidelik is nie. Hierdie geleier (Swys se woord) van water behoort juis nie eers ʼn kwessie te wees nie omdat ons almal alternatiewe keuses het. Dus raak die definisie daarvan per se oorbodig. Niemand behoort meer met ʼn tuinslang in die hand te staan en ure te verkwis om die aansien van jou eiendom te beskerm nie. Daarvoor is daar mos ander soorte van tegnologie om die tuin te besproei.

Dit is net dat dit so ʼn intense jammerte is dat die besproeiingstelsel nooit, maar nooit, alle hoekies bykom nie - ten spyte van allerhande eksperts se beloftes. Verder het ʼn stelsel die neiging om nat te maak waar nie natgemaak behoort te word nie en droog te laat waar nie droog gelaat behoort te word nie. Dis waarskynlik waarom ek van my dag af ʼn diep verpesting het in al wat ‘system' is! (A perfectly profound remark if ever I made one)

Mettertyd grawe die opvolgende prosessie van nuwe geslagte honde dit in alle geval uit. Dit is ook ʼn empiries bewese feit dat die tuinhulp na baie jare se geduldige instruksie gewoon nie die ontsettende bemagtiging van ʼn mooi tuin kan of wil begryp nie. Om van komposisie, balans, harmonie en fokuspunte nie eens te praat nie.

Seuns help ook nie veel nie; die een is heeltemal te verstrooid en bespuit mure, sypaadjies, voetgangers, goggas en boomtoppe - een en almal maar alles behalwe die tuin; die ander een is weer heeltemal te haastig en maak bloot bolangs nat - couple of minutes flat voordat hy weer op sy eie missie is. En hier staan pappie nog steeds, dag vir dag in hierdie mooie woestynland, geduldig met ʼn vloek van ʼn eiewillige tuinslang in die hand.

Dit is nou ook nie asof hierdie heerlike Desembervakansie enige verligting bied nie. Hier is ook ʼn kleine tuintjie - erg formeel rangskik in die beperkte spasie met perse lavenders en pienke malvas agter ʼn piepklein grasperkie - die verwerplike tuinslangetjie heelwat dunner as die een in Windhoek.

Terloops, kan jy jou nou die hele spektrum van emosies bedink waardeur ek moet gaan as ʼn bedorwe bandy-legged wit poedeltjie, duidelik ge-‘groom' deur ʼn idioot en met ʼn care-taker of highly dubious quality op my einste klein grasperkie kom skyt! Het hoeka vanmiddag die gevoelentheid gekry om sy eie persoonlike drolletjies in ʼn Checkers plastieksakkie om sy nek te bind en hom met oorverdowende lawaai te verjaag na sy big-haired mama ... Maar ek was besig met my tuinslang.

Sien julle; ek gee almal die skuld behalwe die tuinslang, terwyl die afstootlike, krullende, toeknypende, lekkende, onbeheerbare, rubberagtige, kamma "UV Protected - Made in China", geel gestreepde etterse ding verantwoordelik is vir al my fokken frustrasies.

Maar ek maak hom uiteindelik reg werk en dan is dit al te lekker om te staan en dink oor DIE LEWE. En ek kan die tuin daagliks sien groei en ontwikkel onder my eie hand en ek kry my eie tyd en dit is ten minste iets wat reg gedoen kan word net soos ek dit wil hê ...

Oom Daan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top