Bokomo-brekfisbrief; 19/11/08: MaanKind en terug na toentertyd

  • 0

 

 

Liewe MaanKind

Jou "Terug na Toentertyd" het my op ver paaie teruggeneem. Ek wens so party stadskinders kan net een week lank ons kinderjare in Halfweghuis, nou Midrand, ervaar! ʼn Plot was destyds 20 morge, nie sommer ʼn lappie grond nie; nee, ʼn yslike stuk aarde wat intensief bewerk is deur ʼn oupa wat snags drie-uur met ʼn haelgeweer in die ertjielande gaan waghou het om die hase te verwilder!

Jy praat van ʼn donkie vir warm water. Diegene wat nie ʼn donkie ken nie, weet nie wat hulle mis nie. Dit was ʼn lang, smal, half beneukte klein metaalgrys geyser, wat langs die bad teen die muur gestaan het op pootjies, en gestook is met een vuurhoutjie, twee droë mieliestronke en drie bladsye van Die Landstem, destyds ʼn baie gewilde, half voorwaartse koerant. As daardie donkie met sy klein vuurmaakplekkie onder in eers begin bzzzzz trek het, kon jy maar klaarmaak vir ʼn woeste warm bad. Teen daardie tyd was die baksteen wat heeldag in die donker pens van die Esse-koolstoof gestaan en warm word het, net lekker smoorwarm, en is behendig in sy gehekelde jas ingestop en klaar in die bed om die ysige katoenlakens warm te maak daar by die voete langs. Die foxterriër wat eintlik die hase moes weghou uit die ertjies, was ook al klaar in die bed om die boonste ysigheid solank weg te broei. Die Siamese katte was in sus Lynette se bed, met dieselfde doel.

Dagtake voor skool was daar baie. Jy het ʼn keuse gehad: Óf jy tel honderde granadillas van die grond af op en pak dit in bruinpapiersakkies met liggeel growwe toutjies-handvatsels vir die padstalletjie, óf jy maak sap vir die fabriek daarvan, óf jy melk vir Bontrok.

Granadillas is snaakse goed. Jy mag dit nie pluk nie, want dan is dit nog groen. Die verskrompelde, diep-pers ryp granadilla val met ʼn plof af en lê op die grond om opgetel te word. Buk, buk, en nogmaals buk, af grond toe en weer op, aanhoudend, vir minstens ʼn halfuur voor skool. Daar was soveel granadilla-lanings dat my oupa die Dairy Maid-fabriek van pulp kon voorsien, en elke ellendige granadilla moes oopgesny word, die pulp uitgekrap word met ʼn silwerskoon teelepel, in nog skoner groot 10 liter (destyds in pinte en gellings gemeet) plastiekkonkas deur hulle voorsien. Harde werk!

Die melkery was eweneens erg. Bontrok was ʼn liewe siel met die moraliteit van die Slet van Babilon. Sy het gekalf dat hoor en sien vergaan. As Bontrok die urge kry, breek sy deur enige draadheining en kom nie terug voor die bure se bul sy goeie daad vir die dag verrig het nie, en dan slenter sy luilekker self terug huis toe met ʼn idiotiese, selftevrede grinnik op haar swart-en-wit koeigesig. Daar was een bul wat gedurig tweelingkalwers veroorsaak het, en Bontrok het hulle uitgepop soos ertjiepitte. Dan was daar gedurig ʼn koei of twee of drie om te melk voor skool, want die bulletjies is later verkoop maar die koeikalwers het koeie geword en hul eie spul kleintjies gekry en moes ook gemelk word. Blommetjie moes gespan word; sy het ʼn melkemmer geskop dat hy vol duike is, en Lady ook! Bontrok was gelukkig so hondmak dat ʼn spantou nie eens nodig was nie. Jy sê net "Bontrok, kom hier!" dan staan sy klaar reg.

Dit was egter nie net vir melk nie. Nee, jy moes die swaar gegalvaniseerde sinkmelkemmers dan melkkamer toe dra, dit in die separator gooi en die slinger draai en die melk afroom! Die room is in ʼn roomkan gegooi, en die afgeroomde melk klaar in gesteriliseerde melkbottels, en huis toe na die koelkamer toe, vanwaar die Portugese kafee se melklorrietjie dit sou kom haal. Vier keer se melk het genoeg room gegee om ponde botter te karring, en dan het jy die karring met die hand gedraai tot die goudgeel botter aan die houtspane vasgesit het. Die karringmelk, met klein stukkies botter nog daarin, is afgegooi en yskas toe, en die botter is dan gewas (oor en oor met skoon koue water!), gesout, geblok (in ʼn houtvorm wat een pond botter kon hou, uitgegooi as dit koud was, en in waspapier toegedraai met die datum daarop, want botter word galsterig as dit oud is!

Intussen het Oupa al half-vier die oggend die brood wat die vorige aand klaar geknie en gerys en platgeknie en weer gerys was, en in die broodpanne opgemaak was, in die Esse-stoof se pens gesit. Ontbyt voor skool was vars gebakte wit of volgraan boerbrood, plaasbotter met grondboontjiebotter of konfyt of altwee, of Marmite en kaas of altwee, en ʼn groot beker vars, kokende warm moerkoffie met room en suiker daarin, nie afgeroomde melk nie ... Skooltoebroodjies was twee snye van hierdie boerbrood, met ʼn wye verskeidenheid goeters op, en die stadskinders was maar alte gretig om hulle plat oninteressante stadstoebroodjies te ruil vir ons s'n. Omdat my ma by Rooi Rose in Johannesburg gewerk het en my pa in Pretoria, moes ons elke dag 26 myl met die Putco-bus skool toe ry in Lyttelton. So het ons winter en somer, herfs en lente elke dag twee keer die hele breedte van die Gouwse se 20 morge plot vol perskebome geloop tot by die bushalte, en die bus gehaal by Busstop 11, met Oom Kelly Trollip wat ons busbestuurder was en gesorg het dat die klomp skoolkinders stigtelik bly en ry.

Wonderlike dae, MaanKind. Laat hoor nog van jou interessante memoirs, asseblief ... Volgende keer vertel ek jou in ruil vir ʼn donkie van ʼn ander kleur, ʼn regte bipolêre plotdonkie genaamd Vaaltyn!

Joy en Blessings

Leandré

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top