Bokomo-brekfisbrief; 19/08/2010: Wegraakplato's van die sidderkaroo

  • 0

Wil U maar vir my ‘n plek daar loop neersit, in die diep vergetelheid van die wegraakkaroo, dink-bid die man. Ver weg ja, in die grootste van die groot Karoo se verlatenhede, ‘n watertjie, ‘n dakkie sonder ‘n hekkie, of ‘n plekkie met ‘n naambord wat my sal verraai. “No names, no packdrill.” Selfs sonder enige beduidenis van ‘n paadjie om Google-Earth se satellietoë na my hermietkluis te lei. GPS onopspoorbaar.

Alleenmense praat dikwels hardop met hul self. Die man ook. Die aarde behoort aan die Here, sê hy, en so ‘n staning iewers, is al wat ek vra. Niks van die volheid van die bodem wat mense so oploop jaag nie. Niemand moet my daar kan kry nie. Die oploopses moet, onbewus van my bestaan, op ver boetepaaie verbyry met hul vernietigende bloudrukplanne vir sogenaamde ontwikkeling, en my dor paradys ongeskonde en onbesoedel laat. Hoe vinniger hul ry, hoe beter, om gou deur die groot ‘niks’ reg rondom te kom, en nog boetes te betaal vir bankrot owerhede. Ek sal deel van daardie niks wees. Met my voete plat op die aarde sal ek God se vlaktes benedy as ek agter my paar mowwe aanloop om op hoogoondmiddae in my leidonkie se skaduwee te gaan sit, wanneer die skape, kop onder mekaar ingedruk, die koeltes onder mekaar se lywe ten beste benut.

’n Donkie is mos amper mens, dink hy, dalk beter soms – bly gewoonlik stil oor dinge waaroor niks te sê is nie, praat nie uit sy beurt nie. ‘n Skaap bly egter ‘n skaap, net soos sommige mense. En snags, as ek die dag se eise in my skermpie afslaap, sal dit juis donkie se kind wees wat oor die skape waak as jakkalsstemme hul onrustig maak.

Iemand het die man lank tevore van so ‘n geval vertel waar ‘n donkie as sakevennoot byna, die trekboer smiddags met die middagdut, en sy skape snags met die nagwaak beskut het teen son en roof. Moenie sê ‘arme donkie’ nie. Die skape het mekaar, maar hy het net vir my, het die man gestorie; en as ek slaap, toon hy sy lojaliteit en hoër begrip deur te waak oor my besittings - ons kudde? So was dit, ook met die middagson, wat hom maar net in ‘n lome middagdut laat versink het, op sy pote, sodat ek in sy skaduwee kon skuil.

Uit die stories van nog ander Haaikaroo- en Kalahari-uitgewekenes in hul selfgekose ballingskap by ‘beskaafder’ asiele, onthou die man  ‘n  duidelike behoefte aan iets met ‘n hoër intellek as ‘n skaap, iets wat soms na jou toe kom, het hulle vertel,  en sy neus teen jou kom druk. Die stil aanvaarding van sy dubbelrol as begeleier van ‘n uitgeweke mens, en leier van  ‘n  trop skape, deur so ‘n dier, is stof vir legendes. ‘n  Hond kan ook daardie rol vervul, maar is ‘n vleisvreter, en vir ‘n hermiet in die Groot Karoo, wat niks besit nie, is vleis skaars. Donkies en bobbejane egter, vreet bossies en veldkos.

So het ‘n Kalaharidwaalgees eenkeer ‘n bobbejaanwyfie uit ‘n luiperd se kloue probeer red. Sy is egter dood net nadat hy die groot kat verdryf het met vlammende bosse droë gras. Toe ontdek die man – ene Frik dink ek - ‘n pasgebore bobbejaantjie aan die buikhare van die dooie ma vasgeklem. Hoe nou gemaak?

Daar was ‘n paar gusooie in ‘n takkraal by sy staning, en ook een waarvan die lammetjie deur jakkalse buitgemaak is tydens geboorte. Pes van ‘n ding, so ‘n jakkals. Frik het die ooi met groot moeite aan die bobbejaantjie gewoond gemaak – moes haar aanvanklik uitmelk en die hansdiertjie voer, maar later het sy die kleine primaatsuigeling soos ‘n moeder aangeneem.

En so het bo’jaan se kind tussen die skaap grootgeword, dagbreek saam veld toe gegaan en saans weer terug. Toe sy nou al mooi groot was, het sy die rol van hoeder oor die laer intellek diere, spontaan aangevoel. Sy was die trop se wagter en het soggens soos ‘n jokkie te perd, op die grootste ram se rug veld toe gery. Geen jakkals of rooikat het dit naby die skaaptrop gewaag nie; bo’jaan was vir hulle ‘n grote skrik op die lyf.

En sou die skape op ‘n aand sonder die bobbejaan by die huis aankom, kon Frik maar die rymuil opsaal. Hy sou haar by ‘n ooi en pasgebore lammetjie in die veld kry, om die ongediertes daar weg te hou. Die bobbejaanwyfie se moederinstink is deur so ‘n pasgebore weerlose lammetjie geprikkel, en so kon ou Frik dan die swak diertjie in sy saalsak sit en met die ooi agterna, veilig huis toe ry voor die jakkalse kon toeslaan. Bobbejaan natuurlik ruiter op die blêrende ooi se rug. Die muil kon glo nooit die bobbejaan verdra nie en het wild agterop geskop by die geringste toenadering.

Wat ‘n verhouding tussen die hoër-, middel- en laer intellekte van die skepping. Maar hoe tog gemaak met die dom, kwasi-dom en baie dom mensdom?

Gee my dus ‘n dakkie, ‘n staning, ‘n watertjie, en iets tussen mens en skaap om net soms by my te kom staan en sy neus teen my druk, om so vir ‘n vryfie deur sy maanhare te vra, praat die man weer hardop in die wind.

Johann de Jager

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top