Bokomo-brekfisbrief; 19/07/09: Simon - Vir Melt en Oester, voor ek op reis gaan

  • 0

 

 

Ja, daar is mense in jou verlede wat dit verryk het, en wat jou as mens meer volledig gemaak het. Hier is 'n essay wat ek ook so twee jaar gelede vir SêNet geskryf het:

Hy het van die straat af na my aangestap gekom. So maer dat sy vel deurskynend gelyk het. Ek het verstom gestaan dat iemand wat so maer is nog kan rondloop. Ek was besig om besproeiing in die beddings te sit, en het afwagtend gestaan om te hoor wat hy wil hê.

"Môre, Baas," groet hy, en staan half geboë, half smekend voor my. "Ek soek werk, assamblief." Toe hy opkyk, sien ek dit. ʼn Lang snywondletsel vanaf sy voorkop, af oor sy oog, oor sy wang, by die mondhoek verby tot onder sy ken. Die letsel was van onlangs, dik en het hom ʼn skrikwekkende voorkoms gegee. Die oog waaroor die letsel gaan, ʼn dooie pêrelvaal. Hy kan nie ouer as 30 wees nie.

"Môre," sê ek. "Ek is nie ʼn baas nie, maar wat is jou naam?"

"Simon, Baas, en ek en my vrou is baie hongor. Ek kan nie werk kry nie, en ons het die kjend." Hy kyk pleitend na my. Ek probeer in ʼn kort tydjie die situasie opsom. Is dit dalk die letsel wat mense afsit?

"Simon, ek is Hein. Het jy al tuinwerk gedoen?

"Nee, baas Hein, maar ek sal leer. Ek ken plaaswerk." Nog steeds pleitend.

Iets in my hou van die man, en ek kan sien hy is naby omval.

"OK. Sal jy begin met R50 per dag vir drie dae in die week, plus etes?" bied ek vir hom werk aan.

"Enige iets, baas Hein, solank ek net kan geld verdien," sê hy met ʼn stywe glimlag, en die letsel trek sy gesig in ʼn monsteragtige grinnik.

Dit was die begin van ek en Simon Leromo in ons dorpie. Vroutjie het eerste vir hom daardie dag ʼn reuse-ete gegee, wat hy binne sekondes verorber het, en toe hy bietjie sterker voel, het ek hom eers laat help met die besproeiing. Toe hy loop, het ek vir hom R50 gegee, en vroutjie het die inhoud van die koskas in ʼn boks gesit vir sy vrou en kind. Hy sou Maandag, Woensdag en Vrydag in die tuin kom werk.

Maandag vroegoggend is hy daar. Al die pad van die plakkerskamp af geloop. En dis ver. Voor werk leer ek hom hoe om die grassnyer en randsnyer aan te skakel en te gebruik. Alette kry opdrag om vir die man kos te gee. Hy moet vir my wag na werk, dan sal ek hom huis toe vat. Ek is nuuskierig.

Na vyf vat ek hom toe "huis" toe. Op die rand van die lokasie, teen ʼn bloekombos, het hy kartonbokse tussen ʼn paar katbosse opgeslaan. Dit is sy huis. Buite is ʼn baie jong en skaam vrou besig om met gras skoon te vee, en onder ʼn katbos sit ʼn kind en speel met ʼn takkie blare. Om die kartonhuis is dit skoon en netjies. Hulle het basies niks gehad nie.

Daardie aand het ek en vroutjie huis skoongemaak. Komberse, potte, panne wat nie meer regtig gebruik word nie is alles in ʼn boks gepak. Ou klere vir die twee, en nog meer kos, seep, handdoeke. Vroutjie bedel die volgende dag by die kerk vir kinderklere en sit dit by.

Woensdag, toe ek vir Simon huis toe vat, loop hulle bekers van dankbaarheid oor. Rebekka, sy vrou, kniel huilend by my voete. Ek trek haar aan haar arm op en help haar om die boks onder die kartonbokse in te dra. Die kerk het selfs ʼn ou teddiebeer vir die kind ingesit.

Simon draai toe uit om ʼn juweel te wees. Aletta sê hy werk haar moeg, daar waar sy vir hom deur die vensters kyk. Hy sit nooit en rus nie, en skielik begin ons tuin groei en blom soos nog nooit tevore nie. Hy is nooit laat nie en hy werk partykeer so laat dat ek vir hom moet wag voor ons na sy kartonhuis ry.

Elke keer as ek daar kom, is daar iets nuuts. Onder die een katbos is daar nou ʼn klein hoenderhokkie met ʼn paar kapokkies. ʼn Ander keer is daar ʼn klein hondjie by. Op ʼn ander keer wys hy my baie trots sy stoel. Uit hout van die bloekombos gemaak.

Na die tweede maand koop ek vir hom ʼn Koöperasie-bergfiets en sinkplate vir ʼn shack. Hy kan nie ophou glimlag nie.

Saterdag gaan laai ek die sinkplate af en help hom gou om ʼn plek te kry vir sy nuwe huis. Teen Maandag, toe hy opdaag, rapporteer hy dat die huis klaar is.

En hy werk net harder en beter, sodat my vriende naderhand erg jaloers is op ons tuin. Hy onderhou die besproeiing op sy eie inisiatief, maak die gereedskap blinkskoon voor hy dit terugsit, en die grassnyer het nog nooit so lank geloop sonder probleme nie. Gaandeweg het die swelsel van sy letsel al hoe verder begin sak sodat dit later net ʼn rif oor sy gesig was.

Een Woensdag daag hy nie op nie. Ek is effens vies, want mens het so gewoond geraak aan sy "op-die-tyd" aankoms, en die oggend mis ek ons geselsie voor ek werk toe ry. Toe hy Vrydag opdaag, glimlag hy van oor tot oor. Hy was Woensdag by die stadsraad en het vir hom ʼn HOP-huis gaan bespreek.

Toe hy drie maande later sy huisie kry, help ek weer om die sink-shack na die nuwe perseel te vervoer. Hy begin dadelik vir hom ʼn stoortjie opsit langs sy huis. Toe vind Vroutjie ewe skielik rede om ʼn nuwe bed te koop vir die spaarkamer, en hoekom die ou brekfistafeltjie nie meer pas in ons huis nie. Dit word aangery en Rebekka voer ʼn dansie uit van blydskap. Op die koop toe het Simon haar verras met ʼn klein TV'tjie. Selfs my hart het geswel van trots en blydskap.

Net na die winter vra Simon om geld te leen. Dit is ʼn eerste, en ek is skoon verbaas. Hy wil ʼn bestuurskursus gaan doen. Drie maande later kom wys hy met ʼn groot glimlag vir my sy sertifikaat en lisensie. Hy het nou ʼn kode 10-lisensie, en ʼn openbare bestuurspermit.

Volgende vra hy ek moet vir hom ʼn "Pim Bloeboek" oopmaak.

ʼn Wat?

ʼn Pim Bloeboek.

Raait, nou weet ek.

Hoekom?

Hy wil spaar om ʼn bakkie te koop, dan kan hy op sy afdae vir ander mense goed aanry, en so geld maak.

Raaaait.

Ons gaan saam bank toe en maak die Bloeboek oop. Ek onderneem om vir elke rand wat hy spaar, twintig sent by te dra. Ons het blad geskud.

Ek het die dag gevrees, en dit het gekom.

Simon het kop onderstebo gestaan en vertel hy het werk gekry by die munisipaliteit. As assistent-drywer. My bloed het uit my kop gedrein. Wat gaan ek maak sonder Simon? Ek het my hand uitgesteek en hom baie geluk toegewens en sy bedanking aanvaar.

"You can't keep a good man down."

Hy het aangebied om Saterdae in die tuin te kom werk, maar ek het dit van die hand gewys. Naweke is ek en vroutjie se tyd.

Met sy nuwe status en verhoogde inkomste het Simon se koninkryk drasties gegroei. Sy werf was netjies met stywe drade afgekamp, blinkskoon, en sy hoenderhokke het uit hulle nate gebars. Rebekka het hoenders aan haar bure verkoop.

Ses maande nadat hy by die munisipaliteit begin werk het, was hy shop steward. Hy het ʼn klein karretjie gekoop (ʼn ou Alfa Guilietta) uit die Bloeboekfondse, en ʼn jaar later was hy ʼn volwaardige drywer met sy eie lorrie.

Ek het nie die aardse besittings wat ons aan hom gegee het, gemis of in rand-waarde kon meet nie, want so ʼn oplewing in selfvertroue, in menswees, in menswaardigheid, in dankbaarheid kon mens net met vreugde beleef.

Ja, ek mis nog vir ou Simon as ek sien hoe my tuin partykeer sukkel hier in die stad. Maar my hart voel bly elke nuwe jaar as hy vir my en Vroutjie bel en uit volle bors oor die telefoon skree: "Heppie heppie heppie!!!!!!!!"

Heinrich B Zaayman

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top