Bokomo-brekfisbrief; 19/06/09: Blombos 1

  • 0

 

 

Vir die gelukkiges wat genoeg geld of konneksies het, 'n idilliese vakansiebestemming. 'n Wegkomkans van die stad of dorp. Waar pa sy stokke kan natmaak, mammie rustig haar "son sak in die weste"-roman kan lees en kinders verveeld kan kerm omdat "hier niks aangaan" nie.

Vir ons: Hel.

Ek moet eers verduidelik hoe dinge werk in my industrie. Jy "kry", komplimente die staat (alles is mos deesdae te danke aan een of ander staat of "people", al is jy die sewende geslag in die bedryf), 'n permit om seekos te loop versamel. Duik, om meer presies te wees. Die beste uit die oseaan.

En hulle in hul twyfelagtige wysheid besluit waar en wanneer jy mag of nie mag werk nie. Een van daardie plekke is Blombos. Pragtige mooi strande en soms kalm see. Groot riwwe wat die Blou Dam se ergste geweld breek en jy dus nie aldag moet vasstaan teen die brekers nie. En dis waar die "religious experience" stop. Want jy stop doer bo by Natuurbewaring se hek en loop verder tot waar jy wil wees. Dis so 14-20 kilometer strandlangs. Want dis waar die grotes is. Dis waar hierdie oseaan Haar beste weggesteek het vir al die vorige generasies net vir jou.

Soggens, as die Groot ene sy kop begin uitsteek, is jy reeds by die "wit huis" en dan moet jy vuur aansteek. Want dis koud. En rondom daardie vuur word die laaste slukke OBS gevat, die stop gerook, die hanne warm gemaak. Die duikpakbaadjie so oor die vlamme gehou want hy's nog nat van die vorige dag. Niks op aarde trek so moeilik aan soos ʼn nat, koue duikpak op 'n wintersoggend voor die Groot ene sy kop gelig het nie.

En dan tot by die banke. Daar waar jy hulle nog droog afsteek (moenie vertel nie, ons sê nie waar ons spot is nie!). Die te water laat verskil maar van mens tot mens. Die gerooktes neuk in en maak nat, geen klaagliedere nie. Die OBS-manne gee so ʼn klein gil as die koue die eiers bereik. Die nugteres sak die kop en kry die koue oor so gou as moontlik. En gee so 'n snak as die koue water so agter die rug inkom. Hel, dis koud!

Die laaste keer toe ek daar loop werk het, was my oesters 11 uur die oggend klaar in hul sakke (drie) en reg om op die skouers getel te word. Om 'n sak op jou skouers te tel, vat vernuf óf 'n "partner". Want jy moet daardie 70kg-sak op jou skouers kry en as jy nie die krag het nie, gaan hulp beslis nodig wees. As hy eers op jou skouers is, moet jy hom so reg skud lat hy reg "lê". En dan moet jy stap.

So driekwart die strand langs gooi jy hom neer en loop terug om die volgende een te loop haal. Sak nommer twee dra jy 'n derde verder as sak een. En gooi hom neer. Terug na sak drie. Hom dra jy tot waar die opdraande begin. En terug na sak een. As al drie jou sakke by "die opdraande" is, dan wag die eintlike werk vir jou. Hier het ek al knie gesien knak. Hier het ek al groot manne gesien met hulpelose uitdrukkings in hul oë. Die laaste keer wat ek op Blombos gewerk het, het ek die aand sewe uur vir die eerste keer by die bakkie gekom. Met nog twee sakke wat lê en wag vir die sandkop waar jy een tree óp gee en ʼn halwe tree terugsak.

Ou Daniel het daardie dag ses sakke uitgehaal. Droog, soos ons sê. Die beste wat die oseaan kon lewer. Hy het net drie tot bo gebring. Toe Mavenster vir hom vra oor die ander drie, het hy beduie: "Here, oom Hans, daai oesters kan maar terug see toe. Ek sien nie kans vir nog nie." Ek sien hom nou nog hoe hy die seskan bydam en sluk asof dit water was.

Die Blou Dam het sy drie sakke teruggevat. Jy kry net wat jy verdien.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top