Wie sal ooit die lewe verstaan? Net sodra mens dink dinge gaan goed en jy's nou weer besig om op jou voete te kom, gebeur daar iets om die wind uit jou seile te haal en jou negatief te maak. Die ding is, as jy eers negatief is, gebeur daar niks goeds nie of jy sien net nie die geleenthede raak nie.
So begin die verhaal wat my negatief maak op Vrydag die 13de Maart.
Ek werk tans op kontrak en dié verval die end van die maand. ʼn Paar dae vantevore hoor ons hoe een van die ander temps per e-pos in kennis gestel is dat haar kontrak verval en sterkte vir die toekoms. So kry ek toe ook Vrydagmiddag na ete ʼn "Dankie maar fokkof"-briefie in my Inbox. Skielik maak dit vir my sin hoekom bestuur mens nie in die oë kan kyk nie. Ek vererg my, maar nie te veel nie, want ek het so iets verwag.
Die naweek stres ek maar vergryp my darem nie aan drank nie, wel seks en meer seks.
Die naweek is te kort en Maandag is ek terug hel toe. Ek sit reg onder die aircon en kry koud. Ek trek ʼn trui aan en draai my serp om my kop en skouers. Dit is nie die eerste keer dat ek die serp so om my drapeer nie.
Ek speel op die internet rond om die tyd te verdryf omdat daar nie vir my werk is of gegee word nie. En ek's nou al moeg gevra vir werk, want die mense raak gatvol, weet nie of dit is dat ek my takies vinnig afhandel en dan weer werk vra of wat die probleem is nie? Elk geval, my foon lui en ek skrik my amper boeglam omdat dit nie op ʼn daaglikse basis gebeur nie. Dis my bestuurder wat versoek dat ek na sy kantoor gaan.
Ek kom daar en my hart raak bly, want voor my sit die HR-bestuurder en dit gaan dadelik deur my gedagtes dat hul dalk my kontrak wil verleng.
O nee, toe nie.
Die mannetjie kak my uit oor my serp-kappie. Ek sê ek kry koud. Hy sê dra nog ʼn trui en wees professioneel. Ek vererg my so dat my ore dadelik so rooi soos my hare is. Ek sê dankie en verlaat die kantoor. Toe begin ek veg teen die trane. Hoe durf die doos vir my sê ek moet professioneel wees wanneer hulle mens per e-pos vra om te loop?
Later die dag kom ek agter die kap van die byl: Iemand het gaan kla oor my serp-kappie, want dit het hulle "aanstoot" gegee. Ai man, mag ek nie in die oggend ʼn Moslem wees nie? Of is dit waar dat my geloof niks met hulle uit te waai het nie?
Hoekom moet ek die donnerse serp-kappie afhaal as ek nie eers ʼn "dress code" saam my kontrak gekry het om te lees, te verstaan en te teken nie.
Nou sit ek, serp-kappieloos en koud en om die cherrie op die koek te sit, kom ek agter my internettoegang is weggevat. Hoe moet ek nou werk soek? My hart is seer en die stres raak meer. Nou skryf ek maar stories, want ek het nie werk nie en ek kan nie Google nie.
Ek wonder oor die lewe en mense. Watse genot put iemand daaruit om te gaan stories aandra?
Weet hulle dat die wiel draai en dat ons vir ʼn maatskappy werk en nie meer in die laerskool is nie?
Dalk het hulle niks opwinding in hul lewe nie en is hul self baie ongelukkig? Hulle kan seker net nie aanvaar dat daar mense is wat kan uitstaan deur net hulself te wees, nie gat te kruip nie en hul gang gaan, maak nie saak wat ander van hulle dink nie.
Ek self weet nie meer wat om te dink nie, maar weet ek is nou heeltemal seker dat ek steeds meer van diere as van mense hou.
Ek het nie vriende nie en ek het hulle nie nodig nie, ek het nie mense nodig nie. Hulle is vals en skynheilig en kyk wat hulle uit jou uit kan kry.
Die dag van my dood kom nader en as ek daai dag die lewe ten volle verstaan, weet ek ek sal vinnig begrafnisplanne moet maak.
Talitha Wagener


