Bokomo-brekfisbrief; 19/01/09: Vir almal wat saamgepraat het oor die Nagwag en hulle wat ook in die kuns belangstel

  • 0

 

 

My heel eerste besoek aan die Nagwag was terselfdertyd ’n wonderlike maar ook ’n teleurstellende ervaring. Die wonder het gelê in die grootsheid van dit wat voor my teen die muur gehang het. Die kommunikasie van ’n oomblik wat jare oud geword het, maar in my oog steeds vars was soos die dag toe die verf sorgvuldig aangewend is.

Om die skildery te verstaan is dit nodig om sy geskiedenis te verstaan en die geskiedenis van hierdie skildery vertel gelykertyd ook die geskiedenis van die rol van kuns in die samelewing. Die skildery dra die naam De Nachtwacht, maar daar is ook bespiegelings oor die feit dat die toneel inderwaarheid nie ’n uitbeelding van ’n nagtoneel is nie. Soos dit ook maar gaan, sal daar altyd ’n klomp mense wees wat argumenteer oor alles behalwe die essensie van die saak. In hierdie geval is dit ’n skildery wat op aanvraag gemaak is deur Rembrandt Harmensz van Rijn.

Dit is “Schuttersstuk” ’n soort skildery wat algemeen bekend was in Nederland tydens die 16e en 17e eeu. Die Schutterij of Stadswag, was gewoonlik ’n klomp vrywilligers van ’n sekere stand en uit die Hervormde kerk wat veral Hervormde belange beskerm het. Katolieke en andersgelowiges het nie vrye toegang tot die korps se dienste gehad nie en moes ook meer belasting betaal wanneer hulle hierdie beskermingsdienste van die korps wou geniet.

Om ’n lid van die Schutterij te wees was ’n status simbool. Eenkeer elke maand het die Schutterij deur die stad se strate marsjeer en dan fees gevier. ’n Skilder is dan uitgenooi om die geleentheid op doek vas te lê, want daar was ook sterk kompetisie tussen die verskillende korpse. Elke korps wou op sy beste vertoon teenoor die ander van andere stede en dorpe. Om die skilder se kostes te dek moes die lede van die korps daarvoor betaal. Hoe hoër die rang, hoe meer moes die persoon betaal en hoe meer prominent word die persoon in die komposisie van die skildery geplaas.

Hierdie is ’n tipiese voorbeeld van een van hierdie Schutterstukke:

Die Boogskutters korps 1653 deur Bartholomeus van der Helst

So was dit dan ook met die skildery van Rembrandt. Dit is in 1642 voltooi en die lede van die Shutterij het almal betaal vir die voorreg om deel te wees van hierdie portret. Kom ons kyk bietjie na die Nagwag

 

’n Groter weergawe van die skildery is hier te besigtig.

In die middel van die skildery staan Kaptein Frans Banning Cocq (in swart geklee) en langs hom staan sy luitenant, Willem van Ruitenburg, die man in geel. Die man wat die vlag dra is Jan Cornelisz Visscher. Van hom was klaarblyklik verwag om ongetroud te bly, want die vlagdraer was die persoon wat op die slagveld die kwesbaarste was. Jan Cornelisz was van goeie afkoms en het saam met sy moeder geleef. Hy is vir jaar na die skildery voltooi is oorlede sonder om ooit in ’n slag betrokke te gewees het. Teen die muur in die agtergrond het Rembrandt ook ’n skild ingeskilder waarop al die name van die lede van die Schutterij geskryf is net om seker te maak dat hulle teenwoordigheid in die “portret” duidelik en sonder verwarring sal wees. So het elkeen op die portret dus ingekoop op die idee dat hulle, saam met die skildery, ‘n mate van onsterflikheid sou kry. Soos die tyd ons wel geleer het, was dit inderdaad die geval met de NachtWacht.

Die skildery is in 1715 verskuif, van waar dit in die Feessaal van die Kloveniers doelen, die hoofkwartier van die Schutterij, gehang het. Die visie was dat dit in die Stadshuis op die Dam (die Koninklike paleis) moet hang. ‘n Ere plek is aan die skildery toegewys waar dit teen ‘n muur tussen twee Kolomme sou hang. Toe die skildery met veel moeite in die bestemde saal aankom waar dit moes hang is gevind dat dit te groot was en nie teen die muur, tussen die pilare sou pas nie. Toe sny hulle dit.

 

Die wit strepies dui die snitte aan en kan op ‘n groter prent hier gesien word.

Drie tragedies lê hierin vervat. Die een persoonlik, die ander twee universeel.

Die persoonlike tragedie is die feit dat die arme twee Schutters aan die linkerkant deur die sinnelose, en onkunssinnige knipper van hulle onsterflikheid beroof is en dit terwyl hulle daarvoor betaal het.

Die tweede tragedie lê in die manier waarop die oorspronklike komposisie van die kunstenaar deur die administratiewe beampte, wat dit geknip het, verkrag is. Hartseer ja. Veral as mens in ag neem dat die derde tragedie die feit is dat die kunste, selfs vandag nog, tussen die smal grense van die administrasie ingedruk moet word.

Groete

Lucas Maree

Bronne:

A history of Art - Janson

The Oxford History of Art - Osborne

Die Ryksmuseum – ‘n uitstalling wat alles verduidelik in die sy saal langs die Skildery - 1993

Wikipedia

http://www.rembrandtpainting.net/rembrandt's_night_watch.htm

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top