Bokomo-brekfisbrief; 18/11/2010: Die begrafnisgangers van Raithby

  • 0

Dit was so hier met die draai van die eeu, toe ons op dié plekkie afkom, daar so knus genestel tussen die pragtige wynlandgoed net buitekant Somerset-Wes. Raithby is ’n klein gemeenskappie van bruin mense wat vir hulle ’n eie dorpie “gestig” het, kompleet met kerk en laerskooltjie en al.

Dit was hoeka dié kerkie, wat in sy nuutheid soos ’n seer vinger uitgestaan het, wat ons aandag getrek het. Ons was besig om ’n uitgebreide voedingskema op die been te bring in die omgewing, nadat dit tot ons kennis gekom het dat daar armlastiges in die afgeleë begraafplaas gebly het … ja, die “Law Enforcement” in Somerset-Wes was dalk té effektief … armlastiges, dit is nou die straatmense, is saans na sononder sommer onder die bome en die ander skuilings uitgeboender en summier opgelaai en buite die dorp afgelaai. Die arme ou shelter in die onderdorp was kort na oopmaaktyd laatnamiddag, tot kapasiteit toe volgepak. Die res moes maar sien en kom klaar.

Die eerste aand, dit was al so sterk skemer, toe ons by die begraafplaas langs Raithby aankom om die situasie met die straatmense se behoeftes daar te gaan ondersoek, was tipies Kaapse weer. Die windjie het kort-kort geloei deur die hoë bome, en die motreën het sulke vlae waterdruppeltjies oral rondgestrooi. Toe dit rugbaar word dat daar mense is wat nie daar hoort nie, dis nou ons, het die arme mense soos skimme tussen die grafte te voorskyn gekom … stil-woordeloos, verwese, verslae, verskrik … skimme wat nat blink in die falende lig, selfs kleintjies. Woordeloos is ons aangestaar, die angs van die grafbewoners aanvoelbaar. Hulle het nie geweet wie ons is nie, en het gemeen ons is daar om hulle ook daar weg te boender …

Die volgende dag het ons vir Sammy ontmoet. Sammy was Raithby se organiser. Dié oompie moes vir ons te woord staan op ons versoek dat ons die kerksaal mog gebruik om ’n voedingsplek in te rig, waar orde kon heers en sake gemonitor kon word, ter wille van die versorging van die begraafplaasbewoners. Dit is tóé dat ons dit agterkom – daar is ’n sterk element van antagonisme by die dorpsbewoners ten opsigte van hulle onwelkome bure. Ja, Sammy, ’n deftige ou oompie, had ook sy eie deftige Afrikaans – en hy had ’n naam vir die grafbewoners – Die Begrafnisgangers. Só sou hulle voortaan bekendstaan – Die Begrafnisgangers. Onderling het ons bespiegel en gemeen dié naam is aldaar aan hulle toegeken want dit val straks nie so hard op die siel en gewete as “grafbewoners” nie … ja, Sondae dawer Psalm en Gesang en Prys die Heer en predikings van Naasteliefde vanuit die kerkgebou, maar langsaan woon die naaste in honger en nood tussen die dooies … en sou die gewete daarmee nie só direk aankla as daar na hulle as “Die Begrafnisgangers” verwys word nie.

Ons is selfs die Sondag – dit was Nagmaal – genooi om die Nagmaaldiens by te woon … Daar aangekom, sien ons hoe dié diens gebruik word om geldinsameling te hou – die gemeente wat inval, nie om die brood en die wyn voor die kansel te ontvang nie, maar om die sak te skud by die ontvangspunt reg voor in die kerk, ten aanskoue van die hele gemeente – skud die sak, broeders en susters! eers daarna het die brood en die wyn gevolg. Net vir ’n oomblik het ek my verbeel ek is terug in die ou berugte Middeleeue waar die sak só geskud moes word in die Roomse Kerk om die sondigheid mee skoon te klingel … dit is mos nie verniet dat die Nagmaal juis gaan oor die verootmoediging en die vrye, gratis, vergiffenis en verlossing van sondes, nie … Maar toe besef ek opeens – in Raithby doen hulle dinge anders.

Nodeloos om te sê, te midde van beskuldigings van gruwel en misdaad teenoor hulle armlastige bure, was toegang tot die nuwe kerksaal geweier. Sammy was tevrede dat “Die Begrafnisgangers” nie hulle verantwoordelikheid is nie. Die Tweede Gebod moes darem so bietjie getemper word om darem nie súlke vervallenes in te sluit nie, wat wou …

’n Paar dae later het ons ’n ander plan gemaak, en ’n ander afsetpunt vir die voedingsplan bekom. Maar “Die Begrafnisgangers” se getalle was groot, té groot, en die nood nog groter, en ons het gewillige hande nodig gehad om die groot taak te volbring op ordelike wyse. Nou ja, almal wat al by sulke werk betrokke was, sal weet dat gewillige hande net so skaars is soos geldelike bydraes … Daar was net een uitweg – terug Raithby toe, na Sammy toe. Ons versoek was of daar nie tog maar ’n paar mense was wat bereid sou wees om te help met die verpakking en uitdeel van die kospakkies nie. Vir die geleentheid het Sammy ’n paar voorste susters van die gemeente opgekommandeer. Na ’n hartroerende en dwingende pleidooi, het die voorste van die voorste susters se hart vermurwe, en sy het gesê Raithby se susters staan g’n terug wanneer dit by die sake van die HERE kom nie.

In ’n ommesientjie is ’n hele hand vol “vrywilligers” genomineer – maar hulle moes eers by Sammy verbykom. Hy moes hulle keur … op navraag waarom dit nou nodig is, was sy antwoord “ons kan nie dat mense wat nie vertroubaar is nie, met die HERE se goeters werk nie.” Op my navraag hoe hy dan sou weet wie betroubaar is of nie, veral omdat hulle nog nie soortgelyke skemas daar bedrywe het nie, was Sammy se antwoord kort en kragtig – “ek ken ’n vertroubare mens as ek hom sien.” Afgehandel.

“Vertroubare” mense en al, is die eerste besoek toe, met die proviand, by “Die Begrafnisgangers” afgelê. Uiteraard is Sammy saam, want niks gebeur in sy dorp waarby hy nie inspraak en insae het nie. Aanvanklike wantroue wedersyds en ’n gegluur oor en weer, op die rug van ’n langdurige vete, se weerstand het vinnig verkrummel. Binne tien minute het gemoedere begin verander. Haastig het “Die Begrafnisgangers” ’n koortjie uit eie geledere bymekaargemaak, en by die wanklankige maar opregte en uit-die-hart lofsange, is die kospakkies uitgedeel. Die vreugde, dankbaarheid en blydskap kan nie in woorde vasgelê word nie. Welwillendheid het geseëvier, vreugde die oorhand gekry. Liefde het sy mooi meetsnoere oor die lewendes tussen die grafte van gestorwenes uitgebrei. Sammy is op die hande gedra – sy voete onder hom uitgeslaan deur die vrugte van die Liefde. Eensklaps was onwilligheid uitgedrywe, en amperse oorywerigheid die plek daarvan ingeneem.

Van toe af kon ons skaars voorbly. Sammy het ons omtrent op ons tone gehou met die voorsiening van proviand. “Vertroubare ” mense het onder Sammy se wakende oog gekom en gegaan, om “Die Begrafnisgangers” se nood te verlig.

Die maagkanker het vinnig toegeslaan … Sammy het gegaan sonder geskal, maar met nalatenskap van mooi herinneringe.

Só maak ons belewenis van ons medemens, ons lewens vol.

Hoe kragtig is die Liefde nie.

Vrede vir julle.

Bruinbroodkorsie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top