Bokomo-brekfisbrief; 18/11/08: Aanneming is nie kinderspeletjies nie

  • 0

 

 

Ons was vakansie-ouers vir ʼn 3-jarige dogtertjie. Sy was middelste van vyf kinders waarvan almal behalwe die bababoetie wat aangeneem is, in die kinderhuis was.

Na ʼn klompie jare het ons toe aansoek gedoen om haar aan te neem. Die ma het geweier en ons het haar in permanente pleegsorg geneem. Die sielkundige en maatskaplike werker wat ons saak hanteer het, het gewaarsku dat sulke kinders dikwels in hul tienerjare probleme gee. Ons het twee klein dogtertjies jonger as sy gehad toe ons haar inneem en het gedink baie liefde en sekuriteit is genoeg om hierdie proses te maak werk. Ons het ons kinders grootgemaak met instink, common sense en baie geloof.

Die wiele het begin afval in Graad 9. Sy was ʼn goeie atleet en het baie goed presteer op skool. Toe kry sy anorexia. Dit was ʼn jaar van hel vir ons gesin. Sy het ʼn control freak geword wat obsessief was met kos maar dit nie wou eet nie. Sy het ons met kos gegooi tydens etenstye en haar woedebuie het ons familie radeloos gehad.

Met ʼn wonderwerk is sy genees, maar dis ʼn storie vir later.

Ek het besef dat die verwerping wat sy ervaar het as klein kind so ʼn onuitwisbare indruk op haar gemaak het dat sy desperaat was vir aanvaarding en liefde. Ongelukkig het sy dit begin soek by mans. In Graad 10 het sy beplan om weg te loop met ʼn baie ouer man, wat sy ontmoet het sonder ons wete by haar broer in die kinderhuis. Ons het haar gedwing om eers die skooljaar te voltooi. Om ʼn lang storie kort te hou, sy het teen ons sin en smekinge gaan trou op 17 met toestemming van haar regte ma, wat self te sleg was om verantwoordelikheid te neem vir enige van haar eie vyf kinders. Ons pleegdogter is nou 28, het drie kinders by verskillende mans, en het al by ses verskillende mans gebly in die afgelope 10 jaar.

Ek vra myself baie dikwels wat ons beter kon gedoen het, of is dit die sondes van die ouers wat maar herhaal? Is dit diepgesetelde verwerping wat maak dat sy net nooit kon inpas en voel sy behoort werklik nie en is tweede beste maar net nooit genoeg om die plek te neem van jou eie ma en pa en gesin nie? Sy het ʼn kans gehad om ʼn beter lewe te kry, maar het gekies om die siklus van armoede en minderwaardigheid voort te sit.

Ek weet mense wat oor die kleurgrens trou, werk ekstra hard om hul huwelike te laat slaag en die slaagsyfer is hoog. Ek het niks daarteen nie. Om oor kultuur- en velkleurgrense kinders aan te neem is baie edel, maar ek twyfel baie sterk of dit die gewensde ding is om te doen. Ek weet van baie min aannemings waar kinders sonder probleme gebalanseerde gelukkige grootmense word, en dit uit dieselfde kultuur - hoeveel moeiliker as dit uit ʼn ander kultuur is?

Toe ons in Sjina was, het ons baie Europese paartjies gesien wat stootwaentjies met klein Sjinesies in rondgestoot het. ʼn Groep Spaanse paartjies het ons vertel dat hulle babetjies kom haal het. By ons kerk is baie paartjies wat swart babatjies uit vigs-tehuise aangeneem het en die kinders floreer. Ek wonder net wat gaan gebeur as hulle tieners word? Miskien sal hulle met baie hulp en terapie beter vaar as ons met ons pleegdogter.

As ek daaroor dink sou ek dit nogtans nie anders gedoen het nie, dit wat ons pleegdogter by ons ervaar en geleer en wat ons in haar lewe ingebou het, kan niemand by haar wegneem nie. Net so is dit miskien tog beter vir daardie kinders om in ʼn gesin en gelukkige huis groot te word, as in ʼn tehuis of op straat.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top