'n Spitskop is mos daai ou soort kool wat mens nie meer deesdae in die winkels sien nie. Blykbaar vat hy te lank voor die kop stewig genoeg is om te sny, so min groenteboere plant hulle deesdae. Dis mos 'n koolkop wat met so 'n punt staan en frilletjies blare rondom. Lekker kool om te eet, of so sê die mense. Ek eet nie gaar kool nie en rou is hy so effe branderig.
Dan kry jy die ander soort spitskop. Of dis hoe die mense hulle maar mettertyd genoem het. Hoekom weet ek tot vandag toe nie want hulle koppe is nou nie regtig "spits" nie. En hulle is nou ook nie kole nie, daarvoor is hulle heeltemal te slim. Hier aangekom van nugter weet waar af. Met 'n spul kinders en aanhangsels. Met so 'n roesbruin ronde Kombi. Wat goed gedien het sommer as karavaan en kombuis en blyplek. Die patriarg van die spul was die ou man met sy een been en prostese, maar die een wat die kitaar geslaan het en steeds doen is maar die moeder. Sy het beweer sy is gebore in Moeder Ingeland en het as jongeling hier aangekom. Iewers in Wallis lewenslig aanskou maar dis in die verre verlede want die Afrika-son en die harde bestaan en die vele klogoete en hul droogmaak het die mooi wat daar eens was verander en dit hard gebrei tot bloot net nog 'n harde uitdrukking met die plooie van 'n lewe van swaarkry.
Die spitskoppe ken van oorleef. En ken van uitkyk vir mekaar. Ek onthou die eerste keer wat die Boere na die een kom soek het want die gaskanne en krane en koperpype by die leë vakansiehuise het vinniger as gewoonlik verdwyn so hier is nou 'n georganiseerde besigheid. Buitendien, hy moes kom aanmeld by die poliesstasie en het dit nie gedoen nie, so hy moet nou loop verantwoording doen. En so kom dit toe uit dat hy verskeie vakansiehuise inderdaad van gaskanne en watse skroot ookal verlos het. En hy loop bandiet het daarvoor. Moeder Spitskop het lank loop smeek by die Magistraat en belowe dat sy hom onder haar duim sou hou maar die Judge het dalk, soos baie van ons, onraad vermoed.
Jonger broer is kort later ook gesoek. Want hy was in 'n onderonsie met 'n spul ouens iewers in Kwa en het iemand met 'n bottelkop seergemaak wat tot die dood gelei het. Moeder Spitskop het weer die familie opgekommandeer om te loop pleit vir versagting maar die jonge heer Spitskop is nou seker al in sy tiende jaar van sy lewenslange vonnis.
Ek onthou die spul soos hulle uit daai Kombi gepeul het. En die hele lot die ding aan die brand moes stoot. Want selfs 'n Volkswagenenjin kannie vir ewig hou nie, al sê die mense die goed is kanniedode. Dikwels moes ons hoor dat die Spitskoppe weer een en almal in die selle moes slaap, want vat jy aan die een is die hele lot op jou. Hoor hulle dat 'n werkgewer die een vermaan omdat sy, mmmmm, beskonke by die werk opdaag is man en muis daar om geregtigheid op te eis. Selfs die skoolmeester en die welsyn het maar gewyk voor die (ek neem aan Walliese) woede van 'n patriarg wat dikwels kaalvoet en dreigend opdaag.
Annerdag, so met die soek na 'n parkeerplek hoor ek 'n skril stem my naam uitskree. Met die omkyk sien ek arms en hanne wat wuif en laggende gesigte wat wys dat hulle die beste "spot" vir my ou bakkie het. Mens vra mos na die welstand en jy word belowe dat die ene wat sou waag om aan my deur te vat erg gaan seerkry. Ek vra oor H***** en of hy nog by Buffeljags bandiet en die jong Spitskop beduie: "Ja, ma en pa bly nou nader Kaap se kant toe om nader te wees vir besoektye." Ek beduie dat hulle maar kan rondhang en eerder ander voertuie moet oppas want wie gaan nou in elk geval my ryding wil steel? Buitendien, hulle ken mos al vir Oestertjie as iemand sy goete wil vat. "Ja, maar ons sal maar ogie hou, moenie worry nie. Sê, as jy daar by PnP se bottelstoor verbyloop, kyk maar of jy nie ietsie ekstra het vir 'n botteltjie nie, toe?"
Ek stap weg en ek dink aan hierdie jong Spitskoppie en ek dink dat ou Glam Guru nie veel werk nodig sal hê om haar op te dollie tot iets magies nie. Die gelaatstrekke is klassiek, die gesig is glad nie onaardig nie en met bietjie Elvive sal die kind glad nie onaardig wees nie. Maar ek sien reeds die lyne van die lewe op haar gesig, die lang dae in die harde son se harde houe. Mens kan mos nie anders nie en al weet jy dis verkeerd koop jy maar by PnP se kantien die gevraagde botteltjie. Jy gee dit en jy kyk na die glimlag en jy sien hoe sy die sakkie vir die man gee: "Sien jy, ek't jou gesê ons sal regkom. Ek ken vir Oester al van sy pa se dae af. Onthou jy die oom wat altyd gegee het?" Sy pas so onder sy arm in en al het hulle soveel niks sien ek dat hulle, ten spyte van niks hê, tog gelukkig is. Ek wonder oor hulle slaapplek vir die aand maar ek het dalk nie nodig om te wonder nie, want hulle ken van kleins af van oorleef.
Ek klim met 'n vreemde gevoel in my ou bakkie en met die uitry onthou ek dat ek my afspraak met die bank skoon vergeet het. Want die bestuurder karring al hoeka oor my "fasiliteite" wat "dringend" hersien moet word. Ek dink aan die Spitskop so onder haar "breker" se arm en die bewondering waarmee sy na hom opkyk. Ek dink aan met hoe min hulle tevrede is en ek wens soms, net soms, ek kon al my tjekboeke en kaarte en goete op die bankbestuurder se tafel loop neersit en vir hom 'n vinger wys en beduie waar hy einste vinger kan indruk. Maar dan sal ek nie hierdie briefie kon skrywe nie, sou ek?
Snaaks, met hoe min sommige mense tevrede kan wees en hoe gelukkig dit hulle maak.
oester


