Bokomo-brekfisbrief; 18/08/2010: J & D

  • 0

Ek wonder soms oor die ding van pasmaats. Jy weet, soms, na baie jare begin man en vrou na mekaar lyk. Hulle sê dieselle ding van honde en hul base. Daar is geen manier op aarde dat J en D na mekaar kan lyk nie, al raak hulle hoe oud.

J het vir D ontmoet toe D nog 'n "willewragtag" was. Nie dat hy was nie, maar die feit dat hy 'n motorfiets gehad het het mense so laat dink. Want toe was daar mos nog daai stigma aan bikers. Sy was nog nie reg droog agter die ore toe D haar die eerste nag weggelok het met sy 400 nie. En jol het hulle gejol soos net vars liefde kan doen.

D het vir die spoorweë gewerk en watter tienermeisie met sterre in haar oë sal dan nou nie val vir 'n man met 'n vaste werk, motorfiets, mooi woorde en lang beloftes nie? So is die twee toe getroud en J onterf, want D se familie is bekend dat hulle nie baie flukse mense is nie. Die mense het agterna gevra hoekom die pa nie die trouery gestop het nie en hy het bloot beduie: "Sy sal nog agterkom waarmee sy deurmekaar is ..."

Soos dinge mos maar dikwels gaan het sy gou gewys. Want soms wil mans mos bevestiging hê dat vroutjie lief vir hulle is en hoe anders as om haar "in die ander tyd" te sit? Die twee (en 'n half) het die Katolieke kerk se huisie hier naby gehuur en kon basies vir ewig daar bly vir baie goedkoop. Klein huisie maar baie groot erf waarop jy, as jy slim te werk gaan, onafhanklik kan leef. Dinge het goed gegaan vir 'n maand of ses en toe sien die manse wat oom K bedoel het: D was beslis nie lus vir werk nie. Nie buite die slaapkamer nie. J het gewoeker met die tuin en sy het agter daardie ou stootgrassnyer geloop vir dae aaneen terwyl D op 'n stoel gesit en Coke drink het. En haar gesit en bekyk het.

Ek moet dalk net byvoeg: J staan nie haar vyf voet in haar sokkies nie. Klein en fyne ou mensie wat bloot geleer is van kleins af om hard te werk. D, groot man, se pa se sooihuis het bo-op hom inmekaar geval ...

Dit was nie lank nie of D word "geboard". Want sy rug is seer. En vir die res van sy lewe kon hy dus by die huis sit met sy spoorweg pay. Tot selfs die kerk moed opgegee het en die drie kennis gegee het. Die jare het gekom en soos gewoonlik soos 'n gedagte omgevlieg. Tot die dag wat ek vir J sien in 'n ou afgeleefde flintergat Nissan bakkie. Aan't pavers pak vir iemand met 'n groot strandhuis. Maar dis nie wat opgeval het nie, want sy werk maar altyd soos 'n esel. Dis die man wat handjies gevou voorin gesit het.

Ek vra maande later toe dinge begin weird raak vir haar wat dan nou aan die gang is? Want D sit by die huis en sleg wees en hierdie Pietie se vroutjie wonder tien teen een waar hy nou is? "Ons is net vriende". Mmmmmm, daai ene het ek al so baie gehoor en wie weet, dalk self al 'n paar keer gebruik ... Getrou aan my siel uittrek-aard hou ek maar aan met die pot roer tot die dag wat ek vir hom vra: "Weet jou vrou dat jy vir J sp****?" Dis toe hy solied in die strik trap en te gou reageer: "Ons sp**** nie, ons het iets beter ..."

"Ja, maar sê nou D vind uit van julle?"

"D weet dat ons altyd saam is ..." En toe bloos hy die gewone skakerings en slaan die laaste spyker (!!!!) in die kis: "Hoe lank gaan jy nog wees, liefie?" Ons het so gelag dat hy later bloot saamgelag het. J het in haar gewone half nederige manier bloot geantwoord: "Lekker is mos lekker, en kan jy my blameer?"

Nee, J, ek kan jou nie blameer nie, maar ek wonder tog oor hierdie ding dat die geskiedenis homself met eentonige reëlmaat herhaal. Want Pietie staan ook so met sy arms so onder sy kieliebakke ingevou en kyk hoe jy werk. Dalk maak hy net seker hy verloor jou nie ... ? Moet sê, sy het nou weer daai anderste glimlag soos toe sy nog jonk en wat ook al was.

Mmmmmmmm, g'n wonder die mense praat van D as dooie D nie.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top