… se opskrif van haar brief “Afrikaners ondermyn Afrikaans”. Die brief self, waarin sy, lyk dit my, beweer Afrikaners ondermyn hulle taal deur wyn te suip, kan ek nou nie heeltemal mee saamstem nie; ek weet nie hoe sy die kloutjie by die oor bring nie. Tensy, natuurlik, sy te kenne wil gee mens ondermyn Afrikaans as jy wyn koop met Engelse etikette op die bottels. Daarmee kan ek saamstem; hulle moes eintlik brandewyn gedrink het en wel Oloff Bergh; jy kry blykbaar nie wyn waarvan die etikette in Afrikaans is nie.
Ewenwel, terug by Afrikaners wat Afrikaans ondermyn. Die ergste ondermyning – gruwelikste verkragting om die waarheid te sê – van Afrikaans het ek in ʼn kykNet-program met die naam “Jip” gesien. Sowat van gatkruip by, en gedienstigheid teenoor, Engels het ek nog nooit gesien nie. Die aanbieder en aanbiedster laat geen geleentheid verbygaan om Engels te praat nie en AS hulle Afrikaans gepraat het, veral die aanbiedster, is dit die afskuwelikste verbasterde Engfrikaans wat jy aan kan dink; sy gaan selfs sover as om Italiaanse woorde (paparazzi) op die Engelse manier uit te spreek!
Sy het ʼn onderhoud met ʼn Lottering-kêrel gehad, geheel en al in Engels, en dit op ʼn (veronderstelde) Afrikaanse program! Sy pa was blykbaar ʼn pastoor in Mitchellsplein, dus moet Lottering goed Afrikaans kan praat; hoekom was die onderhoud dan in Engels?
Die programvervaardigers (Afrikaners natuurlik, waar sou Engelse dan nou ʼn Afrikaanse program maak?) sal natuurlik aanvoer dat hierdie Afringels/Engfrikaans is wat die jong mense praat. Ek twyfel, ons tieners kan darem nie só kruiperig wees nie maar indien hulle wel is, is dit ooit ʼn rede om hulle nog verder te besmet? Slangtaal is een ding, iets eie aan tieners, Engelse tieners gebruik ook slang maar nooit sal jy kry dat Engelse so gedienstig aan, sê Afrikaans, is dat hulle hul taal met Afrikaanse woorde deurspek nie.
Is programvervaardigers en radio-omroepers kop in een mus om Afrikaanssprekendes te verengels of is hulle maar net bloot gedienstig en/of traak-my-nie-agtig? Is Afrikaanssprekendes, veral tieners, te toe om agter te kom hulle word gebreinspoel? Of intergriteitsloos en slapgat genoeg (anders as Engelssprekendes) om bietjie ruggraat te toon; hulle laat maar gods water oor gods akker loop? Of voel hulle minderwaardig genoeg om, soos, Breyten sê, “op te gradeer Engels toe”?
Hoe dit ookal sy, dit is soos Swaeltjie se opskrif sê, “Afrikaners ondermyn Afrikaans”.
Sy sê iets interessants, naamlik dat haar Afrikaans nie meer so goed is nie. Ek ken haar (uit haar briewe in die verlede nou) as ʼn redelik intelligente vrou en tog, na ʼn paar jaar in die vreemde, het sy haar eie taal vergeet. Dieselfde gaan met Charlize Theron gebeur, indien dit nie reeds gebeur het nie.
Ek sê mos almelewe, in die mens se hardeskyf is plek vir net een taal, dis nou om vlot te praat. In Suid-Afrika is die meeste mense goed onderlê in Engels omdat dit nie-amptelik die amptelike taal is, die regering wil dit hê (en dus word dit in ons kele afgedruk). Om egter aksentloos Engels te praat moes jy in ʼn Engelse skool gewees het of moet jy met ʼn Engelse vrou (of man as jy ʼn vrou is) getroud wees of ʼn Engelse ma of pa hê. Hoe vlotter jou Engels egter, hoe meer gebrekkig praat jy Afrikaans om die eenvoudige rede dat daar net nie genoeg verwerkingskapasiteit in jou brein is om twee tale te bemeester nie.
Daar is uitsonderings, daar is selfs mense wat drie of meer tale vlot praat maar hulle is uiters, uiters skaars omdat hulle van die intelligentstes is, ʼn klein deeltjie van die klokkromme. Of dit is hulle veld, hulle is linguiste of so iets. Terloops, hierdie algemeen aanvaarde idee dat die swartes vier of vyf swart tale kan praat is onsin; toets dit maar.
Een ding moet ek sê van Swaeltjie; alhoewel sy al jare uit die land is is haar Afrikaans nog suiwer in vergelyking met baie van die briewe hier. Ronel byvoorbeeld, in haar brief aan Sondaar op 7 Des het omtrent ʼn dosyn Engelse woorde in, en dan is dit nie goed wat mens kan sê meer algemeen in Afrikaanse spreektaal is soos Swaeltjie se “by the way” nie (nogtans nie goed nie) nee, dit is absurditeite soos “truth”, “support”, “saviour”, “guide”, “energy” ens. Waar is ons mense se trots tog.
Nou, met die dat taal so ʼn moeilike ding is, is dit altyd vir my ʼn verwondering dat kinders ʼn taal so maklik bemeester, dis nou sy moedertaal. Stel hom egter bloot aan meer as een taal op daardie ouderdom en hy sukkel ook maar; al bemeester hy altwee is dit gewoonlik op ʼn later stadium as wat net met een taal die geval sou wees. Wat ook snaaks is is dat, maak nie saak hoe moeilik die taal nie, kinders praat almal op min of meer dieselfde ouderdom. Of is dit nie so nie? Praat Russiese kindertjies eers op ʼn later stadium vlot as byvoorbeeld Afrikaanse kindertjies?
Ek sal graag wil hoor wat sê die linguiste.
Jan Rap


