Gisteroggend vang my oog die ousie wat in die glasbak met die soutsnoek rondkrap. Vir die wat dit nie ken nie, dit is nie die fancy gerookte snoek wat ’n mens in daai oranje boksies koop nie. Nee, hierdie is rou, grof gesoute snoek, wat in ons in grootmaat aankoop en in kleiner stukkies sny om te verkoop. Dit is ’n gewilde item onder my swart mark.
Die vrou krap nou al ’n aansienlike tyd in die bak rond en sy pak soortgelyke grootte stukkies langs mekaar, terwyl sy kort-kort na die paar muntstukke in haar hand kyk. Sy is duidelik besig met ’n ingewikkelde wiskundige berekening. My nuuskierigheid kry die oorhand en ek stap nader.
“Wat maak jy Ouma?” vra ek haar van agter af. Sy skrik en buk vinnig om die muntstuk wat sy laat val het op te tel.
“Haouk my kleinbaas, jy moet mens nie so staat en bekruip nie!” sê sy verleë, “Ek test maar net die meeste vleisies vir die minste geld.”
Ek wil vir haar sê dat die stukkies geweeg word en dat sy ongeag, maar dieselfde waarde vir geld gaan kry, maar besef dit gaan te moeilik wees om te verduidelik. Die geld in haar hand is min, maar dis hare. Sy moet dit spandeer soos sy goed voel daaroor. Tog probeer ek help.
“Ouma die snoek, hy is eintlik die luxury, hoekom koop jy nie eerder polonie nie. Jy kry baie meer vleis met dieselfde geld.”
Sy kry ’n skaam laggie en verduidelik: “Nee, kleinbaas. Ek het ses tjinners. Die snoek, ek sny hom sulke lang repies. Een vir elke tjind. Die snoek hy’s baie sout, dan drink die kinders baie water. As hulle vol water is, hulle vattie so baie brood om vol te kom nie.”
Ek kry skielik skaam. Ek soek die grootste stuk snoek uit en gee dit vir haar: “Hierso Ouma, dis mahala. Gaan gee hom vir jou kinders.”
Haar oë kyk my met ’n trots wat deur my boor, terwyl sy die snoek teruggee: “Nee, my kleinbaas. Die kos wat nie die geld vat nie, maak nie die gees vol nie.”
My Sondag is skielik omgekeerd. Daar is nog mense in ons land, wie se menswaardigheid nog duurder as ’n stuk ‘mahala’ is. Dit is hulle wat die soustrein moedswillig verpas het.
Jan Twak
Volg Jan Twak se blog! – Maggie


