Bokomo-brekfisbrief; 17/11/08: Kameraadschap!

  • 0

 

 

ʼn Paar dae gelede was dit koud, nat en baie winderig in die Kaap. Eintlik sommer weer skoon winterweer. Sopweer.

Gedagtig aan ʼn lekker pot warm sop, maak ek ʼn draai by Pick ʼn Pay en kry die nodige bestanddele.

Toe ek by my straat indraai, sien ek hierdie twee hoogtrappende hinkepinkendes stap in die middel van die pad voor my huis se oprit.

My huis is die middelste een in die blok tussen twee systrate. Die een herken ek toe as ʼn boemelaar wat dikwels alleen in ons omgewing rondhang. Hy stap knus ingehaak by ʼn onbekende, skraal figuur. Eers vervies ek my natuurlik vir die twee wat wragtag so slapdash IN DIE MIDDEL van die pad bly stap ten spyte van die aankomende motor.

Soos ek naderkom, slack ek heeltemal af uit vrees dat hulle voor my kar gaan instrompel. ʼn Karlengte voor my hek sit ek toe, hek-remote in die hand en wag vir die twee om verder as my hek te vorder. Sodat ek kan inry. Sodat ek my lekker warm sop kan gaan maak en kan aangaan met my (relatief) veilige lewe agter my hoë muur.

En so sit ek toe uiteindelik ʼn volle vyftien minute daar en wag vir my hek se inrit om bevry te word van boemelaar-en-sy-maat. En wat begin het as ʼn oefening in irritasie vir my, sit toe geleidelik om in ʼn kosbare ervaring wat my die res van my lewe sal bybly. Want ek besef ek is besig om kameraadskap in sy suiwerste vorm te aanskou.

BB (Bekende Boemelaar) is góéd gekletter, hy kan homself beswaarlik regop hou. Maar BBSM (Bekende Boemelaar-se-Maat) is geheel en al, kaarthuis-wat-inmekaarstort-styl onkapabel. En hy word op werklik ongelooflike wyse deur BB ondersteun.

So pluk die geweld van BBSM se bene wat net eenvoudig onder hom meegee vir BB ook heeltyd byna onderstebo; dis twee treë diekant toe, drie treë daaikant toe, whoopsch hoogtrap (!), nou fok ons eers amper reg agteroor, dán pluk BB wonderbaarlik BBSM se kop weer regop tien sentimeter voordat dit die randsteen tref, dan moer hulle weer amper anderkant toe neer van die momentum, en so gaan dit aan.

En aan, en aan.

En die twee vorder niks, hulle bly voor my hek. En ek besef dis ʼn wonderwerk dat die twee kamerade hoegenaamd op hul voete, oftewel op BB se voete, kan bly. Vergeet van hoegenaamd actually vorder, vooruit kom. En regdeur die hele proses KLOU BB aan BBSM se arm asof lg se lewe daarvan afhang. (Ek is seker dit het).

My rowwe-diamant buurman kom naderhand bakarm al skellende oorgestap om te kom help dat buurvroutjie-in-distress tog net by haar hek kan inkom.

Toe hy sien ek sit en tjank, kry hy ʼn testosteroon rush en wil die "bliksems!" begin "wegdonner sodat niemand julle ooit weer sal fokken herken nie!"

Terwyl ek buurman paai, help hy hulle toe effe verder as die oprit weg en kan ek inry. En buurman wil lang stories maak oor die blerrie sleg etters en en en ... En ek wil die oomblik koester want ek weet ek het iets sonderlings aanskou.

ʼn Halfuur later, toe die sop goed kook, gaan loer ek by my hek uit. Hulle is toe so twee huise verder voor daai inrit besig met hul passies. Die boonste systraat was nog vrek ver!

Ek wonder waarheen was hulle eintlik op pad?

Ook ʼn limerickskrywer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top