Bokomo-brekfisbrief; 17/10/2010: Onse Asjéra aan die punt van 'n lyn?

  • 0

 Asjéra onse Shekhinah, geliefde van HaShem.

Sy is ook die geliefde van see en land, en beskermer van alle lewende dinge.

Bron

Die kinders van Israel is op dramatiese wyse gesond gemaak deur eenvoudig na Haar te kyk waar sy met slange om Haar gevleg opgerig is. So is Sy steeds ’n universele simbool vir dokters en gesondmakers. Dis vir Haar wat die Pêrelvissers hier so pragtig besing!

Haar heilige pale en pilare, het oral langs HaShem se altare in ’n soort omhelsing gestaan - totdat die maskuliniese Hebreeuse priesters genoeg gehad het van haar!

Maar, ook vanweë ons minagting en ondankbaarheid aan Haar, kan al die vis wat ons vandag op ons borde ken binne die volgende paar jaar uitgewis wees. Ons nageslag sal dalk nooit weet hoe ’n vars stukkie vis saam met skyfies proe nie!

Die dokumentêr The End of the Line(wat binnekort ook in Suid-Afrika vrygestel gaan word), is ’n ontnugtering aan die gedagte dat die Bloudam ’n pragtige en onuitputlike bron van kos en plesier is.

Die toenemende gebruik van gevorderde tegnologie sedert die vyftigerjare (toe grootskaalse ontginning van vis in die see begin het), het uiteindelik daartoe gelei dat 90% van ons vis in die see reeds uitgewis is. Spesie na spesie het aan die druk beswyk.

Volgens die dokumentêr, het ’n nuwe generasie wetenskaplikes sedert 1992 ons visbronne in die see begin navors.  Hierdie navorsing het gevolg na die ineenstorting van die wêreld se grootse vis populasies in Kanada.

Kanada se vis was so in oorvloed, dat gemeenskappe daar gedy het. Bote het groter en groter geword. Vangste het verbeter. Tot die ondenkbare gebeur het.

Veertigduisend vissermanne het oornag hul werk verloor en die eens oorvloedige Kanadese Kob, is nou as ’n bedreigde spesie verklaar.

Daar word beweer dat Suid-Afrika se diepsee- en kommersiële visbronne goed bestuur word. Maar nader aan die kant, stort ons vis in duie. Ons lynvisspesies is glo verby 90% in afname. Daar is eenvoudig te veel mense wat ons te min vissies in die see uitvang.

In Houtbaai is die prentjie van ons verwoesting duidelik. Ek staan gereeld op my stoep en kyk hoe reuse-bote tonne en tonne proteïene uit die see oes en dan by die Oceane-visfabriek aflaai.

Hier word dit gedroog, gemeel, en in sakke op swaarvragmotors gelaai om as hoenderkos die miljoene hoendertjies te voer wat daagliks deur die volk verorber word. ’n Ontstellende persentasie van die lewe uit ons see gemoor, land ongelukkig ook vermors in troeteldierkos.

Houtbaai is maar ’n enkele klein en onbekende hawetjie op die kaart. Wat van die verwoesting aan die Saldahna’s en ander reuse-visverwerkingsaanlegte oral aan ons kus?

Die oorbenutting van ons visbronne, veroorsaak ’n oorpopulasie van ander spesies in die see soos jellievisse, wurms, pylsterte, en alge. Vaar ek met my rubbereend van Houtbaai na Kaappunt, wys my sonar net een massa jellievis en plankton. Sak ek ’n lyn, dan hang daar ’n dik ou seewurm aan die aas. ’n Mens moet regtig die plek ken om nog so ’n snoekie of wat te kan land.

Dié wat glo wéét in Houtbaai, is egter vol vertroue dat ons Kaapse snoek nog geslagte lank sal hou.

Die tunabote hier geanker en gestoor, vertel egter ’n ander hartseer verhaal. So onlangs as drie jaar gelede, het die “tuna-charters” hier oornag hul miljoene gemaak. Vandag hang daar ’n swaard oor baie van hulle ondernemings, en insolvensies raak byna alledaags.

In The End of the Line, word die skrif aan die muur duidelik uitgelê. Die dokumentêr het oorweldigende reaksie in Europa ontlok. Die ster-kok Jamie Olivier, het selfs die tunaresepte uit sy boeke laat verwyder. Daar is tot dreigende opstand in Spanje toe die dokumentêr daar vertoon is.

Blouvintuna is die smaaklikste spesie. In 2007, het wetenskaplikes aanbeveel dat 10 000 ton jaarliks daarvan ontgin kan word. Politikusse en andere van die mafia in die Ooste, het die perk na 30 000 ton verhoog. In werklikheid word daar meer as 60 000 ton jaarliks geoes om markte soos Japan te voorsien.

Die goeie nuus is dat die mag in die hande van die verbruikers (jy en ek), is.

Vra vrae.

As ons die lewe van restaurantbase en handelaars moeilik maak, sal hulle moet verander.

Ek het die nommer van die Suidelike Afrika “Sustainable” Seekos Inisiatief (Sassi), op my selfoon gestoor. SMS die naam van enige visspesie wat jy op ’n spyskaart of op die rak sien na 079 499 8795, en jy word binne sekondes presies ingelig oor die status daarvan.

My gunsteling, Kaapse snoek, is genadiglik nog groen.

My absolute gunsteling, kabeljou, is ongelukkig en hartseer minder groen.

Ek vang my eie kabeljou met groot sorg. Ek vang ook net genoeg wat ek vars kan eet en deel niks uit nie. Die moeilike weer en min tyd vir my om op die see te speel in die Kaap, maak die kabeljou op my gesin se bord altyd iets spesiaal.

Mag Jesus Christus onse HaShem, ons harte bewaar in die verwoesting van see en land om ons.

Namaste.

Hindoe-Moslem-katolieke-groete,

Sondaar

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top