Bokomo-brekfisbrief; 17/08/09: Die werf in rou

  • 0

Mamba in die hoenderhok was die oorsaak. Dit was hy en niemand anders wat Eva, my lêhen, met ’n lispel verlei en opgevreet het. Van haar het hy slegs ’n ribbebeen uitgespoeg – op droë grond. Adam, my haan, moes in stilte toekyk hoe sy Eva die ewigheid ingesluk word. Geluidloos en sonder om ’n oog te knip, het hy na haar laaste skor kloek-kloek geluister, haar stertvere sien verdwyn, haar pote, biddend saamgevou, heel laaste. Steeds het hy nie geroer nie.

Eers nadat mamba, sy pensvel gerek tot ’n bultende Eva, krullerig en met ’n swart duiwelskynsel sy vurktong se pad gevolg het, het hy bedeesd ’n skril gil gegee. Van ’n hoender in nood. Mamba het hom opgelig, sy vier meter halflyf wiegend in afwagting, slangogies doods in die halfmaan. En gepik met die snelheid van ’n verskietende ster. Adam het agteroor van sy stok geval, mamba se tande het die hout ingeslaan en dwarsdeur gedring. Eva se gewig in sy binneste het hom laat hang, aan sy tande.

So het ons hom die volgende oggend gekry.

Jakob was eerste by, hy het die hamer geneem en mamba se tande netjies omgeklink, daar waar hy aan die sitstok gehang het. Mamba het verwoes gespartel toe ons hom uitstrek tot sy volle agt meter en Eva versigtig met ’n skerp mes uit sy bultende maag verwyder het. Daarna het ons sy maag met sout gevul en weer toegewerk. Jakob het sy tande een vir een met die draadtang getrek, totdat net die omgeklinktes oor was. Dié het hy met die ystersaag kort teen die kakebeen afgesaag. Elk, bykans ’n duim dik.

Intussen het vroulief vir Eva met laventel gelawe, haar in ’n wit flenniekombers toegedraai en voor die koolstoof neergesit. Haar oë het stokstyf en oopgesper gebly. Dit was eers nadat klein Swerwer haar met die elektriese koord, afgesny van die ketel, geskok het dat sy met ’n diep asemteug begin kekkel het. Klein Swerwer ook, hy’t vergeet om die krag af te skakel voordat hy die kabel gesny het.

Jakob het mamba na die dam gedra en daar langs die water neergelê, steeds hoogs befoeterd. Onmiddellik het mamba begin drink en drink en drink. Veertig minute en veertig sekondes lank. Bykans ’n halwe meter in deursnee het Jakobus hom stert en kop bymekaargemaak en oor die ou vaaljappietrekker se een bandlose wielvelling getrek. Met sy kop en stert aanmekaar vasgewerk het mamba begin diens doen as ’n trekkerbuiteband.

Eva het nooit volkome van haar wrede ondervinding herstel nie. Telkemaal het ons haar gesien waar sy soos ’n wafferse werfbrak haar been teen ons nuwe trekkerband gelig het. Op sulke dae het mamba hom bloedig vererg en homself styf gepomp met sisse wat nie deur sy toegewerkte bek kon uit nie. Vir twee dae het die trekker dan erg stamperig gery.

Adam het nooit weer gekraai of op ’n sitstok gaan rus nie. Sy nuwe uitverkose slaapplek was langs die dam, by ’n modderpoel. Daar het hy vir ure met Eva se uitskot ribbebeen in die modder gewoel.

Hy het tragies langs sy modderpoel aan ’n hartaanval gesterf, met Eva se ribbebeen in modder toegekoek en sy hoender-oë styf toegeknyp. Toe hy sy een oog versigtig oopmaak, was al wat hy gesien het, ’n pas uitgebroeide vrek lelike eendjie. Die nes was reg langs die modderpoel, buite sig. Adam het ’n bedeesde skril gil gegee, soos dié van ’n hoender in nood, en morsdood neergeslaan.

Swerwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top