Bokomo-brekfisbrief; 17/04/09: Stemdag in die buiteland - so sinneloos soos ʼn Ierse moord?

  • 0

 

Mense soek stories. Seks. Moord. Liefdesdriehoeke. Ek en my man slaan vuis oor wie lees vanaand Deon Meyer, so dis seker geen wonder dat 'n boek oor Ierse moordsake my toe so teleurstel nie.

Murder Will Out se titel is te danke aan William ("Heaven has no rage like love to hatred turned, nor hell a fury like a woman scorned") Congreve.

Dit klink belowend. Mits 'n bietjie bloed en derms jou voorkeur is. Ek haal die boek van die biblioteek se rak af.

Maar die realiteit is: dis glad nie fiksie nie. Dis bloot beskrywings van moordsake. Politieke moorde in Noord-Ierland, plattelandse tieners wat hul internet-liefdes in Dublin gaan opsoek, buite-egtelike babas wat deur hul ma's van kant gemaak is.

Elke keer as ek lees hoe die slagoffer op 'n gegewe môre opgestaan het, wat sy aangetrek en vir ontbyt geëet het, haar roete op pad na haar dood toe gevolg het, het ek probeer om geduldig te wees.

Maar ek het nie die moordenaars leer ken nie.

Die enigste satisfaksie wat die skrywer van die boek jou gee, is die wete dat die moordsake opgelos is. Die polisie het die mense gevang wat die moorde gepleeg het. Sielkundige redes en diep gewortelde vooroordele of ongelukkige kinderdae was nie ter sprake nie. Die moordenaars het nie gemoor sodat iemand 'n storie oor hulle kon skryf nie. Hulle het gemoor, want hulle het gemoor. Ek's vies vir hulle soos vir die Coen-broers na No Country for Old Men. Die sinneloosheid van dit alles! Kruis of munt. Jy lewe of jy's dood. So eenvoudig soos dit.

Vandag is stemdag vir Suid-Afrikaners in die buiteland.

Dublin is nat. Ons sukkel om parkeerplek te kry. Ons stap in die reën na die ambassade. Die ambassadeur is vriendelik. Ons trek ons kruisies. Ons reën op pad terug na ons motor nat.

Op News24 gons dit oudergewoonte. Ekspatriarge gooi modder na mekaar: ek't-gaan-stem- maar-waar-was-jy-mede-broer-in-die-buiteland- maar-kan-jy-my-nie-in-vrede-los-nie-jou- bliksem-as-jy-so-graag-wil-gaan-stem-vir-die- pathetic-land-in-die-suide-gaan- terug-ek's-happy-waar-ek-is.

Vergeet die edele (!) beginsels van daardie eerste demokrasie in Athene.

Die wêreld het nie gaan stilstaan nie. Ierland se resessie is erger as ooit. Die lewe het sy onstuitbare gang gegaan. Ook so die dood. Vandag het mense orals gelewe en op ander plekke gesterf. Sommige mense het gaan stem. Ander het nie. Dit was al.

Dit was op die ou end nie 'n storie nie. Dit was bloot geskiedenis. So was dit vandag ook vir my, ver van Suid-Afrika af, moontlik om 'n kruisie te gaan trek soos dit 15 jaar gelede vir Nelson Mandela moontlik was.

Naomi Meyer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top