Sit ek en amper oorlê tante vanoggend oppie stoep en slurp aan onse ou koffietjies. Sy fyntjies - ek; nes oorlê pa my geleer het - met oorgawe. Ma' sy weet mos nie vannie half-jack onner die kussing nie - drie koffies op een borreltjie is nie 'n ligtelike sakie nie.
Volgende oomblik kom ou Jakob met die spoed van witblits wat brand om die hoek gehol, die stof tot onner sy se knieë saamgekoek. Kom loop staat en vertel hy my die donkie vannie plaas langsaan is al weer doenig met my perdemerrie. Nou wragtag!, tot hier toe en nie vêrder, en net daar loop haal ek oorlê pa se mauser agter die slaapkamer deur en storm saam met Jakob stalle se kant toe.
Oorlaat die donkie my nou ook al ken van klipgooi, en hy gedurig oppie uitkyk is vir, my bekruip ek en Jakob hom stilletjies van agter die kraalmuur en betrap hom soos oorlê pa altyd gesê het: Oppie job. Hênds on.
Dis vêr na waar die man bedrywig is en ek vat stadig dooierus oor die muur.
"Nee", seg Jakob, "meneer moenie virrie kop mik, meneer gaat die perd ok doodskiet. Mik eerder vir sy boude, net so skrams skootjie. Hy sal nooit weer terugkom."
So met die mikkery saam sien ek vir amper oorlê vroulief oppie stoep sit en besef: hier sal ek fyn moet skiet anners gaan daar groot pêre wees vandag. Vroulief is in die algemene pad van die trajek.
Weer oorie kraalmuur, fyn mik, oppie boude - agt duim links, agt duim regs - diep asemhaal - agt duim links, agt duim regs. En toe laat klap ek die skoot, en die muurpleister ses duim van amper oorlê vroulief se kop spat in 'n wit stofwolk. Die pêremerrie skop agterop van skrik, vas teen donkie se gevoeltes van uiterste pyn, en dié vat die pad nes 'n ou army Bedford wie se chassis gebuig is. Snakkend skreeuend. Jakob verdwyn met uitpeuloë in die algemene omgewing, en daar staat ek terwyl amper oorlê vroulief wild op my afstorm.
"Maar my magtag!", skreeu sy van vêr af, "amper skiet jy my dood, jou ... jou ... lieplapper!"
"Maar my Botterblommetjie, wag nou, nie so haastig nie! Ek het vandag 'n groot les geleer."
"En wat sal dié nou dan wees?", skreeu sy terug terwyl haar hand soek na 'n groterige klip.
"Nee, mammatjie, nou verstaan ek daardie Ingelse gesegde wat jy so gereeld gebruik van size does count honderd persent." Terwyl ek retireer vir die waenhuis. "As daardie nou twee vlakvarke was, het ek jou tussen die oë geskiet, my lam."
En dit is laaste wat ek kon onthou.
Swerwer


