As ek reg onthou, was die Griek se naam Costa. Daar op die hoek van Tudhope- en Abelstraat in Berea. En by uitstek het hy lekker vis en tjips verkoop. Destyds waarskynlik die beste in die Goudstad.
Vis en tjips - of die hand om dit buitensporig goed te maak - was Griekse en Portugese winkels se kenmerk. En as jy die dag lus het, kon jy 'n Russian by die tjips gooi. Of 'n Vienna.
Dit was smullekker en goed gedoop met die olie en asyn. Net die ruik van die tjips kon jou hongerte 'n rat hoër opstoot.
Vandag is Costa nie meer by die hoek nie. En die Griekse en Portugese bobaas-tjipsmakers is skaarser as hoendertande.
Vir dié wat daardie lekker tjip-dae mis, is daar darem 'n paar opsies. McDonald's se erekte poging tot tjips, Wimpy se skynaartappel-snytjies of Maxi's se erg gesoute pogings.
In 2000 het ek by Benji's in Earls Court weer 'n bord tjips raakgeloop wat jou jou vingers laat lek. En 'n paar jaar gelede by Medforum-hospitaal se eetplek. Verder is 'n goeie tjip maar 'n skaarsheid wat jou net kop laat skud vir vandag se pogings.
En soos iemand tereg opgemerk het - daai tjips het smaak gekry omdat die Grieke en Portugese sommer net kop by die tjipsbakkery geskud het om van oortollige sweet ontslae te raak.
Dit was in die sweet, sê 'n pêl.
Sweet ofte not ... dit was tjips.
Yuri


