Bokomo-brekfisbrief; 17/01/09: As jy moet ry, moet jy ry ...

  • 0

 

 

Vir Langhans het jy nie sommer heel gesien nie. Net so stuk-stuk. Hy was altyd iewers onder 'n kar of halfpad ingesluk deur een of ander enjinkap.

Dit was 16 Augustus. Hy was besig om sy Ford Fairlane bloedrooi te "duco". Die deure was afgeskroef en het eenkant gestaan.

Dit was amper tyd vir hulle laatlammetjie om haar of sy kop uit te steek. As Langhans en Babs die hospitaal se jaart binnery, moes dit in staail wees. Joepie, sy ou buurman, het eenkant op 'n enjinkap van 'n Mustang met 'n V8-enjin gesit.

Hy was gewoond daaraan om met Langhans se voete en rug of wat ook al te gesels.

Babs het binne gesit en hekel. Hoeveel pare sokkies sy nog wou hekel, was 'n ope vraag. Geel sokkies en wit sokkies. Toe was daar nog nie so iets soos 'n sonar nie. Al die anties op die dorp en van die plase het sonaroë gehad. Almal het voorspel Babsie dra 'n seun. Babs het die sokkies sorgvuldig in 'n boks tussen mottegifbolle gebêre. Dit het gelyk of sy 'n duisendpoot verwag, en natuurlik 'n groot motteplaag.

Joepie se skof het amper begin. Hy het sy trommeltjie met toebroodjies op sy fiets se "carrier" gelaai en die pad gevat.

Langhans het op 'n buiteband wat vol blombolle geplant was, gaan sit om 'n bietjie asem te skep. Die werfhaan het kastig na ‘n wurmpie gepik en toe vir Langhans begin vlerksleep.

Toe Langhans opkyk, het hy vas in Babs se twee biddende hande gekyk. "Maak gou, Langhans, die kind kom," het sy gegil. Sy het haar hande onder haar tamaai maag ingehaak. Langhans het na die half ge-duco-de kar sonder deure gekyk. Hy't Babs se soetkys in die diekie gegooi, die hek oopgemaak en vir Babs gelaai. Toe trek hy weg met skreeuende bande. Reguit hospitaal toe.

Babs het verbete aan die dashboard geklou terwyl sy probeer om haar groot rok van crimplene binne in die kar te hou.

Die rok het soos 'n stuk gordyn by die kar se deur uitgebol. Om die eerste draai het Langhans amper sy ewewig verloor toe hy sy elmboog soos 'n driehoek in die venster wou laat lê. Hy't skoon vergeet dat daar op daai oomblik geen rusplek vir sy bruingebrande elmboog was nie.

By Basil's, die Griek se kafee oppie hoek, het Babs nog op die uithangbord gelees dat die piesangs op 'n special is. Tien vir tien sent!

Intussen het Langhans 'n helse groot gat in die pad probeer ontduik, maar hy het dit nie heeltemal reggekry nie. Hy het sy kop hard teen die kar se dak gekap. Die Brylcreem waarmee hy sy hare in plek gehou het, het 'n yslike vetkol teen die kar se dak gemaak. Die wind het koud aan sy kuif gepluk, maar die sweet het teen sy slape afgeloop. In die kar was dit net 'n gesteun en 'n gekreun. Langhans het sy vrou gesteun en Babsie het gekreun! Die lemoentjie van plastiek wat op die aerial gesit het, het kort-kort hier digby Langhans se oor kom draai.

"Byt bet vas, Babsie, Krismis vat ek jou Durbs toe met my vrypas. Daar's mos niks so lekker soos treinry en frikkadelle eet nie," het Langhans uitasem gefluister. "Vergeet van die vrypas en die frikkadelle, Langhans, kry my net by die General-hospitaal," het Babs gekerm.

By die verkeerslig het daar skielik 'n spietkop langs Langhans se kar ingetrek. "Waar's jou registrasienommer, Meneer?" het die spietkop uit die hoogte gevra en met wit vingertjies op sy motorfiets getik. Langhans het halfpad uit sy kar geklim en geskree dat die spietkop nou sal moet help anders word sy kind net daar op die voorste sitplek geregistreer. Die spietkop het net een kyk na Babs se lyf gegee en toe vooruit gejaag. So het Babs en Langhans toe wel in style by die hospitaal se hekke ingejaag.

As dit nie vir die deure was wat reeds af was nie, was hulle te laat. Daar was nie nog tyd om deure op en toe te maak nie. Hulle was skaars daar of die meisiekind het vir hulle gelê en loer.

Eers toe Langhans vir Babs die boks Black Magic-chocolates wat hy by die hospitaalkafee gekoop het, gee, het hy agtergekom hoe vuil sy hande en oorpak nog is. Hy sou heelwat later daai aand in 'n kispak met 'n tros piesangs vir Babs kom kuier. Nes Babs van hom hou.

Langhans het breëbors huis toe gery, en toe vir die eerste keer gevoel hoe koud die wind oor sy blaaie waai. Die lemoentjie het penorent op die aerial gestaan.

Joepie het sy trommeltjie op die Mustang se enginkap neergesit. Hy't twee plastiekglase uitgehaal en vir hom en pappa Langhans 'n drink gegooi. "Wat's jou meisiekind se naam?" het Joepie skielik gevra. "Lane, soos in Ford Fairlane."

"Sonder deure en duco het die ou sy werk vandag goed gedoen. Ek moet sê, ek sou dalk so 'n ietsie vinniger met 'n Dutsun daar gekom het, mooi naam vir 'n ougat rooikop meisiekind. Nie eens my vrypas Durbs toe sal so lekker soos vandag se trip gewees het nie!"

Joepie het 'n netjiese halfmaan uit sy grondboontjiebotter-toebroodjie gehap. Hy het die halfmaan soos 'n marmot stewig in sy kies gebêre en nagedink. Toe sê ou Joepie: "Mens, maar jy kan darem dankbaar wees dat jy nie vandag met 'n Vauxhall gery het nie! Hoe sou jou arme mooie meisiekind dan geheet het!" En hy lag oopmond sonder tande! Skielik het Joepie se mond vir Langhans kompleet soos 'n kar sonder deure gelyk ...

Wini Esterhuizen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top