Drie donderstorms tref ons Sondag tussen Winburg en Bloemfontein. Dit reën baie hard en die wind waai hael in vlae teen die kar se ruite. Dit maak ons senuwees baie agtig.
Later hou ons by ’n vulstasie stil. Die dameskleedkamer sit vol gestrande buspassasiers. Party sit op die wasbakke en eet toebroodjies. ’n Vrou sit op ’n stoel en grawe rustig in haar neus.
Die eienares van die gastehuis verwelkom ons met drukkies – omdat dit die tweede keer is wat ons daar tuisgaan. Sy spreek dit "driekies” uit, want sy is van Rusland en praat Engels met die oulikste aksent. Die aand ry ons tot aan die einde van die stad om die sonsondergang op sy mooiste te sien.
Maandag ry ons op die N6 deur drie "stop-go’s" waar ons elke keer die stop-gedeelte tref en kan uitklim om bene te rek. Die land lyk op party plekke soos ’n groen grasperk. In die Oos-Kaap staan plate geel blommetjies. Voor Cathcart staan ’n man en vrou langs hulle motor. Die enjinkap is opgefrommel. Dit lyk nie asof hulle seergekry het nie, maar langs die motor lê ’n dooie koei in die gras.
Die lug en die see is diepblou toe ons die dorpie binnery. Alles lyk nog dieselfde. Die bure skuins oorkant ons het ’n nuwe keffertjie. Die hond blaf aanhoudend. Half-elf die aand sak daar ’n harde reënbui uit. Die water ruis in die geute. Ons is tuis.
Annemari
Volg Annemari se blog! – Maggie


