Daar is 'n paar dinge wat my die m**r in kan maak, dinge soos 'n taxi wat jou afsny of 'n muskiet wat hier om jou ore sing, daai kleintjies met die zebra-bene en groot stem. Maar wanneer iemand ooglopend hulp nodig het en andere gee 'n blatante koue skouer, word ek boos.
Gister ry ek en 'n kollega op pad werk toe, en staan by die robot en wag om te draai. Dis 'n groot interseksie, met bane vir reguit aan en draai terselfdertyd. Daar staan 'n man, 'n wit, vuil, takhaarman. Maar hy is blind, hy het 'n wit stok voor hom en probeer die pad kruis. Hy was amper voor die karre in toe hy besef hy moenie nou loop nie, en retireer toe so bietjie.
Ek kon sien hy probeer luister na die karre, maar dis verwarrend omdat party draai en party reguit aan ry, hy kon nie agterkom of hy moes loop of nie. Toe begin hy loop, en in die middel van die pad steek hy vas, draai om, tol weer terug, hy was so verward en het nie geweet wat om te doen nie. Ek kon sy lippe lees dat hy hard vra "Please help me", maar die mense loop net 'n draai om hom, probeer nie eens help nie.
Ek wou skree en huil, hoe kan een mens so hulpeloos wees dat niemand eers wil help nie. Ek het gevra dat my kollega uitspring en hom gaan help terwyl ek my kar êrens geparkeer kan kry, maar op daardie oomblik kom ‘n blanke man van agter, neem hom aan die arm en lei hom oor die straat.
My hart breek as ek aan hom dink. Hy moet elke dag opstaan met die wete dat hy moet loop waar hy wil wees, hy moet robotte en interseksies kruis, sonder hulp, almal loop sirkels om hom, sodat hulle tog net nie aan hom hoef te raak nie. Ek hoop vir daardie mense se part dat hulle nooit blind word, arm word, en so hulpeloos word dat niemand die enkele minute sal afknyp om hulle te hulp te snel wanneer hulle dit nodig het nie. Hoe seg hulle? Die blinde sambok slaan die hardste ...
Altruïs


