Ek het MaanKind se mymerings baie geniet. Miskien kan ek haar paragraaf oor die longdrop aanvul met hierdie stuk wat ek vir my kleinkinders geskryf het:
In daardie jare het mense nie toilette in die huis gehad nie. ʼn Mens moes jou ding gaan doen in ʼn klein huisie ʼn ent agter die huis. Die oumense was baie oorspronklik; dis die kleinhuisie genoem. Daar is ʼn lang, diep gat gegrawe, ʼn plank is bo-op gesit en ʼn sirkel is uit die plank gesny: die gatgedeelte waarop jy moes sit. In party kleinhuisies was daar ook ʼn klein gaatjie langs die grote sodat ma en kind gesellig saam kon poef. Bo-oor dit het hulle dan ʼn sinkhuisie gebou. Of miskien eers die sinkhuisie gebou en dan die sitplek gemaak, ek is nie seker nie. Dit het baie daar binne gestink, maar Jeyes Fluid het gehelp.
My ma het die Huisgenoot of ander tydskrifte in klein blokkies opgesny vir toiletpapier. Dis dan aan ʼn stuk lyn geryg en die lyn is gehaak aan ʼn groot spyker wat in die muur ingekap was. Terwyl mens gesit het, moes jy solank ʼn blokkie afhaal en dit sag brei, want die papier was hard.
As jy lief was vir lees, kon jy stukkies stories op die blokkies sit en lees, maar dit was baie frustrerend, want die sinne was altyd halfpad afgesny. Jy het ander blokkies afgehaal en omgedraai om die res van die storie te soek, maar meestal het dit nie gewerk nie.
Partykeer, as jy gelukkig was, het mense waar julle gaan kuier het, ʼn stapel tydskrifte langs die sitplek gehad. Dan kon jy lekker lees, maar jy moes nog self jou blokkie papier uitskeur en sag brei.
Spinnekoppe was lief vir kleinhuisies, veral langbeenspinnekoppe. Terwyl jy jou blokkie sit en brei, was dit die ideale tyd om te check vir spinnekoppe nie, want as een na jou toe op pad was, kon jy mos nie opspring nie.
Die nagte was nogal ʼn probleem. Jy moes ʼn kers saamneem, want ons het nie elektrisiteit gehad nie. Dan loop jy stadig, hand om die kers gevou, sodat dit nie doodwaai nie. Eers lig jy met die kers na aan die spinnekoppe om te kyk of hulle wakker is en hoe groot hulle is, en sit dan die blaker langs jou op die sitplek of op die spesiale plankie wat daarvoor teen die muur vasgesit is. Jy moes versigtig wees dat die blokkies papier wat aan die haak hang nie aan die brand raak nie.
Vir nommer een het ons gelukkig pie-potte gehad wat onder die bed gestaan het. Mens het dit altyd ʼn koos genoem, jy mag nie van ʼn pie-pot gepraat het nie. Dit is die volgende dag uitgegooi.
Dit was nie lekker om in die nag kleinhuisie toe te gaan nie, want as die wind waai is daar takke wat op die dak sleep, of sade wat daarop val. Jy was bang vir spoke, spinnekoppe, donderweer en Oom Jan met sy een ronde skoen en sy slaprandhoed wat glo nie lekker in die kop was nie en snags rondgeloop het.
Daarom maak jy jou ma wakker, al is jy al in die hoërskool. Sy loop voor, hand om die kers. Dan wag sy buite en gesels met jou terwyl jy binne jou ding doen. Sy vertel jou van die sterre en jaag jou partykeer aan, want in die winter is dit bitter koud binne en buitekant die kleinhuisie.
Die goeie ou dae? Nee wat!
Sieltjie sonder sorg


