Bokomo-brekfisbrief; 16/10/08: Ek was ook 'n struggle-skrywer, Redakteur!

  • 0

 

 

Welaan, Redakteur!

Ek merk u voer tans 'n miniseminaar oor struggle-skrywers (die woorde "struggle" en "skrywer" moet in u kop uitgespreek word soos die woorde "jet setter" in 'n bekende televisieadvertensie, Red, dws met so 'n faux Franse aksent) in die apartheidsjare en besef toe onmiddellik die rekord sal onvolledig bly indien ek nie 'n paar van my eie ervarings met u lesers deel nie.

Na 'n oneervolle ontslag uit die SAW (was 'n onsuksesvolle dog avontuurlustige sniper, Red) in die vroeë tagtigs of sewentigs, het ek my na Stellenbosch begeef en my verbasend gou bevind onder die geledere van die laan-lêers, lieplappers en Tassenberg-filosowe wat niks beter te doen had as om met vuil hare en rooi oë rond te loop en Sartre en Descartes vir mekaar en ons bergievriende aan te haal nie. Ons was erg links, Red.

Ek het besluit om 'n skrywer te wees en het spoedig 'n bekende figuur in 'n bekende koffiewinkel op die dorp geword. Ek het gestruggle om iets van waarde geskrywe te kry, en het toe maar soetsappige liefdesverhale vir Huisgenoot geskryf om aan die lewe te bly.

Ek was 'n struggle-skrywer.

Kort voor lank was PW en Seuns weer op my spoor (hulle moes erg in die knyp gewees het), en het ek na Parys, Frankryk, uitgewyk om verdere deelname aan die benadeling van die huidig-bevoordeeldes te ontduik. Die lewe was saai: ek het my dae in moltreine deurgebring en my voorgeneem om later ʼn boek daaroor te skryf en ook sommer my hele politieke ideologie te verander, maar intussen was ek steeds links en het ek steeds gestruggle om iets van enige waarde geskryf te kry.

Ek was 'n struggle-skrywer.

Ontmoet toe en trou in Parys, Frankryk, met 'n pragtige Viëtnamese vrou, maar toe ons deur die apartheidsvarke 'n visum om SA te besoek geweier word, besluit ek om die hele apartheidsregering revolusionêr te werp omvêr, en begin toe 'n "Wit ANC" wat op sy toppunt uit drie lede bestaan het. Ek en my kamerade smee allerlei revolusionêre planne, maar word deur die varke gevang. Ten spyte daarvan dat ek sê ek is jammer en beloof om teen die KP te spioeneer, - nie Oom Dries Treurnicht se KP nie, Red - word ek tronk toe gestuur, waar ek toe gedigte, onder andere protesgedigte, skryf.

Ek was 'n struggle-skrywer.

Die enigste skryfwerk wat ek deesdae gedoen kry, Red, is die paar briefies wat ek nou en dan aan u rig, maar selfs dit vind ek weens 'n gebrek aan verbeelding uiters moeilik - 'n struggle, kan mens maar sê.

Ek is 'n struggle-skrywer!

'n Struggle-skrywer.

Adieu

Die Dementor

NS - Terloops, kan u volgende asseblief 'n skrywerseminaar oor struggle-mini's hou, of moontlik 'n mini-struggle oor seminaarskrywers? Wat van 'n skrywer-struggle oor seminaar-mini's?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top