Bokomo-brekfisbrief; 16/09/09: Do you know where the Baxter's live?

  • 0

As ek haar by enige ander plek sou ontmoet het, sou dit nie so hartseer gewees het nie.

Toe ek die vertrek binnegaan, groet ek almal vriendelik. Gewoonlik gaan ek na elkeen en vra hoe dit gaan. Al was ek gedurende die week ook hier, is ek vir almal ‘n vreemdeling. Hulle ken my nie, dis die eerste keer wat hulle my sien. Selfs die twee tannies wat ek so drie maande gelede aan die brei gehelp het, sien my vandag vir die eerste keer.

Die breiery het so gekom. Ek kon dit nie hanteer nie as hulle so met die hande gevou sit nie, met ‘n gelatenheid wat alle verstand te bowe gaan. Met praatjies maak kon ek vasstel dat beide kan brei, maar wol het hulle nie. Ook nie breinaalde nie. Ek gaan koop wol en breinaalde, maak dit my persoonlike projek, ons gaan serpe brei. Groot opgewondenheid toe ek ‘n oggend daar saam met hulle spandeer. Hulle kry hulp om die steke op te sit en ons brei. So gesels hulle oor waar hulle vandaan kom. Die een sukkel, sê sy kan nie sien nie, die ander een brei verbete. Soos die breiwerk vorder, sien ek dat hulle nie so ‘normaal' is as wat hulle met die eerste oogopslag lyk nie. Die een se werk vorder nie, die ander een se serp het intussen al amper ‘n stola geword, soos die steke net al meer geword het. Sommer al teen die tweede week moes ek myself van vooraf aan hulle bekendstel.

Gister word die groet ritueel herhaal, praat bietjie met elkeen, al weet hulle nie wie ek is nie. Skielik kom die nuwe vrou en gee ‘n plukkie aan my mou. "Do you now where the Baxter's live?" Ek sê nee, ek weet nie. Sy gaan aan in Engels en vertel vir my hoe vreemde mense haar hierheen gebring het, sy weet dat dit in die omgewing is waar die Baxter's woon. Die Baxter's het beloof om haar te kom haal as sy nie meer hier wil bly nie. Ek sê nee, ek is jammer en stap deur na my man se kamer. Dis Sondag, die dag wat ek hom kom haal om die dag saam met my deur te bring.

Toe ons weer deur die woonvertrek terug stap, weer die plukkie aan my mou. Sy ken my nie, ek is weer vir haar ‘n vreemdeling. Weer vra sy "Do you now where the Baxter's live?". Ek sê weer hoe jammer dit is, maar ek weet nie.

Verskoon my taal, maar ek het hiervoor net een ding om te sê: Dit is so fokken sad.

Lidia

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top