Webvoet, jy is reg, die werf raak bietjie vervelig. Maar mens skryf partykeer oor iets, wag in spanning, dan gebeur niks. Ander kere maak iemand sommer ‘n terloopse opmerking en die duiwel is los. Mens sal seker nooit weet watter onderwerpe mense gaan prikkel nie.
Maar daar is wel ‘n onderwerp waaroor ek nuuskierig is om te weet hoe ander mense daaroor voel. Lyfstraf. Ek sal graag Kobus se opinie wil hoor omdat hy gelei word deur die Bybel, waar lyfstraf toegepas word, en iemand soos Francois wat betrokke is by kinders en opvoeding, iemand soos Vega wat se kinders al groot is, iemand soos Afrikaan wat nie kinders het nie. En natuurlik die res.
Uiteraard sal daar soveel opinies wees as wat daar mense is, elkeen voel maar hy is reg en dat sy opinie genoeg geregverdig is, sekerlik ook uit ervaring en behandeling as kind.
Hierdie artikel beweer dat ‘n studie gedoen is wat wys dat kinders wat pakkry meer aggressief is. Gaan lees maar self, maar dis nie ‘n nuwe onderwerp nie. Ek het jare terug in Kriminologie dieselfde onderwerp vir een van my take gebruik en daardie tyd al baie gelees oor die voor- en nadele vir pakgee.
Dit het ‘n beduidende invloed op my persoonlike siening gehad. Ek is as kind gereeld gefoeter, maar toe ek ‘n bietjie verder gaan lees het ek tot die slotsom gekom dat na alles, pakgee nie die ideale oplossing is nie.
Maar dis makliker gesê as gedaan. Omdat ek daarmee groot geword het, ongeag my gevoelens, is dit vir my amper natuurlik om ook pak uit te deel, toe my kinders op die vloermoer ouderdom kom.
Maar ek het gesien wat die “pak op sy tyd” aan spesifiek my dogtertjie gedoen het. Ek kon dit nooit oor my hart kry om slae te gee soos ek gegee is nie, net so een hou op die boud, en selfs dit was erg. Ek het die vernedering in haar ogies gesien en geweet ek sal dit nie weer doen nie.
My seuntjie het ook ‘n paar pakke al weg, en hy is baie aggressief vir sy vier jaar. Ons het lank reeds besluit dat pak nie vir hulle gaan werk nie, en ek gebruik ander metodes. Mense wat pakgee aanhang sal altyd neerhalend verwys na die “sielkundige” manier van grootmaak as hulle verwys na diegene wat nie pakgee nie.
Dit het nie soveel met sielkunde te doen as wat dit maar net die ouer is wat bietjie meer moeite moet doen nie. Ouers is lui, en dis heelwat makliker om pak te gee as om langtermyn moeite te doen.
Ek het nou al so baie voor- en teen argument gehoor, soos “’n pak op sy tyd is goed”, en “niemand het nog ooit iets oorgekom nie”. My gunsteling kommentaar op die skakel is ene Vlinder wat beweer dat haar kind vir ‘n maand soet is na ‘n pak slae.
Verstaan sy hoekom? Want sy kweek vrees by die kind. Ek was ‘n baie gehoorsame kind, omdat ek geweet het as ek my mond oopmaak waar ek nie moet nie word ek gefoeter. As ouers trots is op hul “soet” kinders, waar die soet bloot gekweek is uit vrees, is ek bevrees daar is niks om op trots te wees nie. Wat het jy nou eintlik bereik? Dat jou kind bang is vir jou?
Ek het ‘n vriendin gehad op skool (sy is vandag ‘n baie bekende sielkundige in die gedrukte media). Haar ouers was albei dokters, en nie sy of haar sussie het OOIT pak gekry nie. Die feite spreek vanself. Sy is uiters suksesvol.
Daar is ‘n artikel in Beeld oor sewejariges wat broeke aftrek. Een van die kommentare, weereens, is dat die kinders net ‘n goeie pak nodig het. Daardie seuntjies verstaan nie mooi wat hul optrede veroorsaak het nie, nou wil iemand hulle foeter.
Ek dink pakslae is maar net nog ‘n vorm van geweld. Jy sal nie jou bediende slaan as sy die strykyster breek nie; jy sal nie jou klerk slaan as sy jou afsprake deurmekaar laat raak nie; jy sal nie jou buurman slaan as sy hond jou pla nie – hoekom dan ‘n kind slaan, wat ‘n mensie in eie reg is. Hoe
Webvoet – mag ek jou ‘n persoonlike vraag vra? En jy hoef nie te antwoord nie. Het jy ooit pakgekry? Jou brief nou die dag oor jou ouers in Stilbaai het my geraak. Dit klink nie asof julle ‘n slegte verhouding het nie, daarom dat ek wonder of pakslae deel was van jou grootword.
Dit was deel van myne en ek en my ouers het ‘n baie slegte verhouding vir baie jare gehad. Noudat ek kinders het, duld ek hulle meer, maar van liefde wys is daar nie sprake nie. inteendeel, ek onthou as kind en tiener hoe ek hulle gehaat het elke keer as hulle aan my slaan. Die meeste volwasse mans sê dat pakgee hulle nie benadeel het nie, maar hoe weet jy? Sou jy nie dalk minder aggressief/meer suksesvol ens gewees het as jy minder pak gekry het nie? Ek weet vir ‘n feit dit was nie goed vir my nie. Die gevoel van vernedering en haat en woede is nie goed vir ‘n kind nie, en nog minder vir ‘n langtermynverhouding met jou ouers.
Dit wat Webvoet vertel het van haar ouers ken ek nie, en sou bitter graag ‘n ma wou gehad het met wie ek so “close” was. Al wat ek
Is daar dalk ander wat ‘n opinie het hieroor?
Groete,
Altruïs
(Ek antwoord graag. Nee, my ouers was nie die lyfstraf-tipe nie. Ek is baie dankbaar daaroor. Dan ook, ek weet dié is nie 'n brekfisbrief soos julle hom ken nie, maar 'n interessante onderwerp om die week mee af te skop. Julle soek ander onderwerpe om oor te kibbel, hier is een! Laat waai met julle kommentaar. Webvoet)


