Gister lees ek in die nuutste Rooi Rose die artikel geskryf deur agbare Johan Symington.
Hy skryf oor mense wat boeke “leen” en dan nie aan hulle eienaars terugbesorg nie.
Ek moet bieg dat ek dit al gedoen het, om nie eens te praat van ’n tydskrif (OK, of ’n paar) tydelik na ’n ander situasie te verplaas nie. Ek skenk gewoonlik die tydskrifte waarmee ek klaar is, aan ’n ouetehuis so word dit dan “recycling”, of hoe?
Ek is versot op boeke, versamel dit al jare en leen nie maklik ’n boek uit nie.
Die vraag is egter: is dit so ’n groot sonde om boeke te neem wat nie aan jou behoort nie en dan gerieflikheidshalwe te vergeet om dit terug te besorg? Is daar nie erger sondes nie?
Diefstal is seker diefstal en as jy kan steel, kan jy seker moor ook, maar ek voel nog steeds dat ek niemand eintlik seermaak nie, ek verarm nie die gemeenskap nie en ... en ... en ...
Eintlik is dit verkeerd, dit gee ek toe, maar ophou gaan ek seker nie.
Ek is ook nie al een wat skuldig is aan hierdie oortreding nie. My boeke wat ek voel besonder spesiaal is, los ek nie op my boekrak nie. Dit word in ’n spesiale kas in my slaapkamer gebêre en niemand sal dit waag om die boeke daaruit te neem nie.
Boeke is my poort na ’n ander wêreld as dié waarin ek my bevind. Dit hou my jonk, dit kleur die lewe in met wonderlike klanke en geure en gebeurtenisse. Dit dien as ontspanning en ontvlugting. Boeke laat my lag en huil en gee my krag vir die uitdagings van die lewe.
So, agbare Symington, dankie vir ’n treffende artikel maar bekeer of genees is ek nie.
Sorriieee daarvoor!
Lavinia

