Ek was nog altyd heel lief vir honde, maar as jong meisie moes ek maar leer dat my ouers nie vreeslike diereliefhebbers was nie. Om ’n troeteldier aan te skaf, sou beslis tot huismoles gelei het. My moeder was ’n vreeslike netjiese mens, en sy sou nooit ’n gedierte in haar huis of selfs die erf duld nie. In daardie jare het allerhande diere ons woonbuurtes deurkruis. Daar was nie vreeslik heinings en mure tussen huise nie, so die troetelkreatuurtjies kon heerlik ’n hele area patrolleer, skoorsoek en rondspeel.
Ek dink dat vele hondjies meer as een eienaar besit het en sommer van werf na werf geswerf het opsoek na kos en aandag.
Maar tog het hulle ons woning vermy. Hulle het vinnig geleer om nie met Ouma Alie te mors nie. Snaaks, Ouma Alie het nooit haar kort humeur op die gediertes uitgehaal nie, maar daar was verskeie jong knapies wat aan hulle ore rondgesleep is, sou hulle troeteldiertjie dit durf waag om ’n beentjie in ons erf te lig.
Ja, almal was bang vir Ouma Alie, en in ’n huis waar mens jou skoene moes uittrek voordat jy by die agterdeur kon instap sou ’n hondjie nie ’n kat se kans op oorlewing gehad het nie.
Ek en my broer ontdek toe een middag na skool hierdie vuil en brandmaer steekhaarbrakkie wat sit en tjank onder ’n boom. Dit was duidelik dat hy maar nog ’n ou babatjie was en ek en ouboet stap nader om die ou diertjie te vryf. Die ou dingetjie kruip toe sommer dadelik in ons harte en ons besluit net daar en dan om Ouma Alie te trotseer en vir Wagter (soos ons hom gedoop het) huis toe te neem.
Soos wat die noodlot wou hê, staan Ouma Alie daardie dag op die stoep en ek kon aan die gluur in haar oë sien, dat die koeël deur die kerk is. Vandag kry ek en Ouboet die pakslae van ons lewe. Ouma Alie het egter net so vuil kyk na die brak gegee en gesê dat ons Wagter in die tuin moet sit.
Skielik verskyn Ouma Alie uit die huis met ’n skropborsel, ’n badjie en ’n koekie seep. “Skrop nou die ding!” sê sy streng en ek en boetman spring weg. Wagter grom en byt, maar ons druk deur. Ouma Alie bring ’n bordjie met vleis en water vir Wagter. Sy waarsku ons dat ons sterre gaan brand as Wagter dit durf waag om die huis in te kom, of as sy enige ongewenste materiaal in die agtertuin ontdek. Sy deel ons ook mee dat sy die volgende oggend vir Wagter ’n ander eienaar gaan soek.
Al huilend is ek en Boetman die volgende dag skooltoe. Dit is maar hartseer vir ’n jong kind om van ’n nuwe troeteldier afskeid te neem. Toe ons die middag by die huis instap wag ’n vreemde verassing op ons. Ouma Alie sit in die kombuis met ’n koppie tee. Wagter is ook in die kombuis en grom-grom vir Ouma Alie. Ouma Alie grom terug, maar dit lyk of die twee mekaar begin verstaan.
Ons vra eerder nie uit oor die nuwe eienaar nie, maar soos wat die dae verby gaan word dit al hoe duideliker dat Ouma Alie Wagter van ons weggesteel het. Eers het Wagter daarin geslaag om langs Ouma Alie op die rusbank te sit terwyl sy brei. Toe het hy dit reggekry om kos vanaf die tafel te ontvang. ’n Maand later het Wagter tussen my ouers op die bed geslaap.
Wagter was ’n dierbare brak. Ons het maar altyd aangeneem dat hy die een of ander Foksterriër was, maar dit het nie regtig saakgemaak nie. Ouma Alie het die brak soos haar kind behandel, en terwyl hy weg kon kom met moord, het ons ore gereeld nog gebrand as ons oortree het! Wagter het baie oud geword, ek dink amper 17 jaar en sedert Wagter oorlede is, het my moeder se gesondheid ook begin taan. Die band tussen mens en dier is soms baie sterker as wat mense wil toegee.
Tant Alie


