Daar in Vishoek se hoofstraat staan die winkeltjies al vir baie jare hand om die lyf. Die treine ry naby die winkeltjies verby. Die treine se ruite het baie oë wat hier en daar 'n oomblik vasvang vir later se onthou.
Ons slenter deur die hoofstraat.
Ek hou van die winkeltjies waarin 'n mens kan terugloop in tyd. Winkeltjies met pennies en tiekies, ou koerante en tydskrifte. Daar kan ek goeters uit my kinderdae herken. Bokskameras, blikemmertjies waarmee ons sandkastele en droomkastele op die strand gebou het en swart-en-wit kiekies. Vir 'n oomblik kan ek weer terugdwaal na die onthou van kindwees. Ek kan goeters sien waarvan ek al so byna vergeet het. Gewoonlik is die winkelassistente net so antiek soos die goed wat aan die oorvol rakke vasklou.
Skielik sien ek die fotoalbum.
Dit lê so half onder 'n spul tydskrifte. Ek wonder wie se hande het hierdie album hier kom los?
Ek tel dit op en begin deur die album blaai. Dis 'n vrou se album. Sy het donker krullerige hare en 'n wye, groot glimlag. Ek kuier deur haar vrolike kiekies. Oral is vierkantjies met laggende jongmense. Hier en daar is vlugkaartjies en geparste blommetjies en ander herinneringe wat vir haar belangrik was. Daar's 'n kiekie waar die vrou guitig haar bobeen vir die kamera wys. Daar's kiekies teen die hange van die Alpe en kiekies in woestyne.
Die kiekies met die wit raampies om laat my gedagtes onderdeur die raampies vloei. Ek maak nuwe prentjies in my gedagtegang van dit wat moontlik was. Ek wens ek het hierdie vrolike vrou wat met 'n klokhelder stem uit elke kiekies lag, geken.
Ek onthou skielik hoe my groot broers, toe hulle nog op skool was, self kiekies ontwikkel het. Flip het met mening die donkerkamer onder sy bed gebou. Dit was eindeksamen. Hy het my ma se bloeddruk heeltemal opgejaag toe hy vir haar sê dat hy geen verpligte huiswerk het nie. Ma was ontsteld dat die kind nie leer nie. Hy het sy matras bo-op die donkerkamer gesit. Sy neus het net-net nie aan die plafon geraak nie.
Ek het later al my Marc Condor-prentjieboeke daar onder sy matras weggesteek. My ma het hoogtevrees gehad en sy sou dit nooit daar kry nie! Ek onthou die reuk van die ontwikkelaar. Die fixer en die waterbad. Hoe die kiekies, asof van nêrens, stadig maar seker op die spierwit kiekiepapier kom lê het. Klein wonderwerkies het in die donkerkamer voor my oë afgespeel. Daar het net 'n flou rooi lig gebrand.
Terwyl ek daar met 'n vreemde vrou se album in my hande staan, tref dit my skielik dat ons almal se albums net uit die gevriesde oomblikke van gelukkige tye bestaan. Die "sê cheese" oomblikke. Al voel jy dalk op daardie oomblik nie gelukkig nie, moet jy net gelukkig lyk ter wille van die vasgevangde oomblik op die kiekie. Die ongelukkige oomblikke word net vasgevang in jou geheue, daar waar niemand anders dit sien nie. Jou gedagtegang hang vol daarvan. Albums is net daar om die gelukkige oomblikke vir die toekoms te bewaar. Dis al.
Ek sit die album neer. Ek draai om en loop. Dit voel asof ek iemand agterlaat. Iemand van wie ek nou weet. Iemand wat nog nooit deel van my bestaan was of sal wees nie. Ek stap terug uit die verlede tot in die hede.
Ek dink aan Lucas se ongelooflike mooi liedjie, "Kiekies".
Buite verander my man en my seun se gesigte van verveeldheid na verligting toe hulle my sien. Ek haal my kamera uit my handsak en neem 'n paar kiekies.
Ek wonder skielik waar my albums eendag gaan lê. So word die pad van gister se onthou elke dag al vaer agter jou. Dit wat vir ons so belangrik is, word stadig net 'n las. Ons kiekies is maar net gesigte en gebeure wat binne 'n oogwink vasgevang is, vir 'n leeftyd se onthou ...
Ten minste kan ek in my leeftyd terugkyk na my kiekies en verlang na dit wat was.
Wini Esterhuizen


