Bokomo-brekfisbrief; 16/06/08: Aborsie en verkragting – Maya

  • 0

Maya, jy vra  “Hoe dink jy gaan ʼn vrou voel as sy vir nege maande lank, elke minuut van die dag, elke sekond van die dag, herinner word aan haar verkragting? Dink jy, my ou, dat sy goed gaan voel daaroor? Dink jy sy gaan vrede maak en die babatjie liefhê? Dink jy sy gaan haar verkragter vergewe en hom ʼn soen gee wanneer die kind gebore word?

Ek verstaan jou punt. Ek weet ook ek antwoord jou namens baie ander vroue wat hier lees en hierdie ervaring beleef. Ek weet, want dis op grond van hulle getuienis wat ek hier tik. Ek is nie ʼn vrou nie en sal vanselfsprekend nooit hulle belewenis kan oorkom nie.

Dit spreek vanself dat verkragting nooit heel nie. Daarby is aborsie ook nooit ʼn objektiewe besluit nie. Dis altyd onderhewig aan die trauma wat ʼn vrou pas ervaar het. Mense in die gemeenskap, veral dié ten gunste van die galg, gebruik hul wraakgevoel om die moeder maklik te oortuig vir aborsie. Die verkragter het meestal gevlug en word tot groot frustrasie van die slagoffer deur die stelsel beskerm. Daarenteen is die fetus onder arres en hartseer uitgelewer aan hierdie wraak. In ʼn gevorderde tegnologiese omgewing word hierdie weerwraak gou onder ʼn doek geplaas en die moord sonder geluid gepleeg.

ʼn Geslag of wat terug was sulke moorde baie moeiliker. Met die gevolg dat baie van ons hier vandag die nasate van sulke ongewenste swangerskappe kan wees. Sou jy jouself doodmaak as jy uitvind jou bestaan is die gevolg van ʼn wrede verkragting? Wie op aarde dink jy sal sy eie lewe neem vir hierdie rede?

Dis presies hoe ʼn embrio of fetus voel. Hulle WIL lewe! As hulle selfmoordneigings het, aborteer hulle sommer spontaan. Baie hartseer moeders kan van hierdie onvergeetlikheid getuig.

Die vorige geslag wat ongewenste swangerskappe moes deurmaak is vandag oumas. Meeste van hulle is nou baie gesonder in die hart as hulle hul kleinkinders sien rondhardloop en lag. Die vermeende verkragteroupa is net iets soos ʼn skim vér terug in die verlede.

Daarenteen, soos ek al voorheen geskryf het, hang die hartseer en gebrokenes wat hul wraak gepleeg het nie in hospitale rond nie. Saam met hulle sit jy ook nie knus in ʼn sitkamertjie rooibostee en drink en jou koekies eet nie. Jy preek ook nie vir hulle nie. Nee sus, jy kuier maar saam met hulle in kroeë tussen ander mismoediges, in gay klubs tussen ander verworpenes, in hoerhuise tussen ander gebruiktes, EN BID, mag Jesus ons Almagtige Lewende God ons almal vergewe en die hele wêreld seën in Sy liefde en genade.

Sorry Maya, daar is ʼn groot geslag ontneemde oumas oppad. Dis die samelewing se skuld. Hulle wat prentjies teken dat daar iets slegs aan ʼn babatjie kan wees. Hulle wat lus raak vir al die KAK aan hulle gedis in advertensies. Hulle wat geboortes beperk ter wille van ʼn mooi huis – en ʼn kar – en ʼn “cooler” planeet. Hulle wat vrees en bewing saai met fundamentalisme en dit Godsdiens wil noem.

Wie gaan selfmoord pleeg sodat daar meer vir ʼn ander vreemde kan wees? Hoekom mag ʼn weerlose embrio en fetus wat WIL, WIL, WIL ... lewe, vir sulke redes vermoor word!

Aborsies is ook nie genesing vir AIDS nie. Vergewe my die seuntjie se naam wat in sy ses jaartjies wêreldgeskiedenis gemaak het ondanks die feit dat hy met AIDS gebore is. Menige gesonde tagtigjariges kan bely dat hulle minder in hul bevoorregte lewens het om op trots te wees as hierdie seuntjie.

Maya, kom ons teken nuwe prentjies vir die volgende geslag. Kom ons heet hulle welkom op hierdie koue planeet en sê vir hulle elkeen is kosbaar ongeag wie of wat hulle pa’s of ma’s is. Kom ons wy ons aan hulle opvoeding tot eer van ons Almagtige Lewende Skepper.

Dankie vir jou gedagtes. Dis nodig.

Sola Gratia

Cornelius Henn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top