Daar is sekerlik maar min van julle wat 'n tyd, as kind geken toe julle nie 'n telefoon in die huis gehad het nie. Of selfs 'n motor.
Ek was in standerd vier voor ons 'n telefoon in die huis gekry het. Dit was teen die muur vasgesit, bo-op ‘n boksie. Met ‘n slinger wat gedraai word en die tannie op die sentrale wat gevra het Nommer asseblief. Maar, die telefoon hoef net sowel ook nie daar te gewees het nie. My pa se werk was van so 'n aard dat hy vir amptelike doeleindes 'n telefoon nodig gehad het. Die feit dat daar tog wel 'n paar privaat oproepe by ingesluit was, het ons nie eens van geweet nie. Die foon was geïnstalleer vir amptelike doeleindes, dis waarvoor dit gebruik was en so het dit gebly. Seker nog so omtrent vier of vyf jaar daarna, wanneer 'n maat dit sou waag om my te bel, het my pa met dié woorde geroep. Kom gou, hier is iemand wat 'n tiekie het om te mors.
'n Motor was 'n heel ander ding. Ek was in standerd agt toe my pa sy eerste motor gekoop het. Tweedehands en kontant. Dit was 'n model van toe al so amper tien jaar oud. Dit was sy eerste en laaste tweedehandse motor. Veertien jaar daarna het hy sy eerste nuwe motor (uit die boks uit!) gekoop. Weereens kontant. Daarna, tot sy dood toe, het hy nog twee motors, al twee uit die boks uit en al twee kontant, gekoop. Dis nie iets wat ons ooit reggekry het nie. Hy het en hulle geld was ook maar relatief min. Dis seker hoekom ons nie tiekies gehad het om te mors nie.
Van sakgeld het ons nie geweet nie. Een maal per jaar, met die kerkbasaar het ons elkeen 'n halfkroon gekry. Dit was 'n sak vol geld. Alles het omtrent 'n tiekie gekos. Ek het maklik 'n sjieling (4 tiekies) heel eerste by die Tombolatafel spandeer. Dit was seker die 'weet nie wat jy gaan kry nie' wat my elkers aangespoor het. Daarna was dit basaar poeding. My ma was bekend vir die lekker kos wat sy gemaak het, maar poeding het ons maar min gekry. Daarom was dit vir my so lekker om al die verskillende kleure drillende jellies in 'n bakkie te kon kry. Dan nog met heerlike goudgeel blerts 'kastert' daarop.
Ek het al gewerk toe my ma vir die eerste keer 'n sitkamer mat gekry het. 9x12 vt. Kan julle nog die Sweedse meubels, snaakse stoele, gewoonlik rooi, geel of swart, onthou? Van ligte hout, met ‘n niervormige koffietafeltjie daarby. Seker nie? Dan die grys mat met geel, rooi blou en groen ontwerpe daarop. Ek self was al dig by die 30 toe ek vir die eerste keer in my sitkamer 'n volvloermat gekry het. Dit het so weelderig gevoel om kaalvoet daarop te loop. Ek het skatryk gevoel.
Lidia


