Bokomo-brekfisbrief; 16/02/2010: Van predikante en kerke

  • 0

Uitgelate en jubelend in Christus baljaar ‘n ietwat gesette dominee en mevrou die Saterdagmiddag in die pastorieswembad, wat verlede jaar van die gemeente afgebid is. Alhoewel, miskien omdat, haar baaipak te klein is, vind dominee vir mevrou verleidelik en slegs sy status verhoed ‘n enorme horing in sy splinternuwe "boardshort".

Dominee is dankbaar, dog heimlik trots op sy vermoë as prediker, dat die Heilige Gees so tot die gemeente gespreek het dat hy ook afkoel/opwarm? geleentheid kry. (Dit mag nodig word om later die jaar ‘n ekstra kinderkamer los te preek.)

Hy is egter glad nog nie tevrede met sy kantoor in die nuwe Administrasieblok nie. Dit verdien ‘n herbesoek. Hy is immers die man wat aan die hoof staan van 18 000 lidmate. Alhoewel hy hulp moes kry uit die buiteland vir die bou van die nuwe kerk was die hele kompleks en die benadering tot die fondsinsameling sy breinkind. Dis is eers later, na sy harde werk, nagepraat deur ‘n onafhanklike selfdenkende kerkraad.

Dit is ook net reg dat die kerk na hom vernoem behoort te word. Die nasaat van sy gees, soos die nasate van sy vlees. Alles aangehelp deur die oop hande van die kerkgangers, soos gelei deur die Heilige Gees, soos gereguleer deur hy wat Dominee is se gebede en sy afgepreekte geloftes.

Hy voel nie skaam nie. Dit doen geen kwaad dat sy eie welstand saam met die koninkryk in die hemel ‘n klein hupstoot kry nie. Hy het hard gewerk aan die verkondiging van die Woord. Hy verdien vergoeding vir al die siele wat hy bereik het. Boonop is hy nou geseën met die vermoë om die moderne kerk te maak werk. Sy gemeente bly groei en daarmee saam die enorme omset , gegenereer deur liefde en offergawe, waarmee sinvol gewoeker moet word.

Uiteindelik is hy die CEO van ‘n magtige organisasie. Hy is trots daarop om te kan sê dat hulle "langs hierdie weg dan nou ook" steeds konstant ‘n tiende van die wins getrou aan die armes afstaan.

Die lewe is goed. Dit is wonderlik om ‘n Christen te wees. Daarom dat hy en mevrou, vandag, dikgevreet en sielsgelukkig hulle pastorieswembad geniet. Dit is ook daarom dat hulle nie hoor dat die honger heiden die voordeurklokkie lui om ‘n stukkie brood af te bedel nie.

Pieter S de Waal

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top