Bokomo-brekfisbrief; 16/01/2011: Four Yorkshiremen en arm blanke huise

  • 0

Reusedwerg se brief het my herinner aan Monty Python se skets by name Four Yorkshiremen. Menere Cleese, Idle en kie spog met hoe arm hulle was kleintyd, iets soos: "We used to live in a shoebox in the middle of the road."

Dit is natuurlik vandag besonder polities-korrek om alle blankes as histories-bevoorreg te beskou, maar dit was uiteraard nog nooit waar nie, en word by die dag minder akkuraat. Daar was twee groot plekke waar ek agtergekom het hoe relatief-benadeel ek grootgeword het, en ook, in teenstelling daarmee, hoe relatief-welaf ek grootgeword het. Daardie plekke was onderskeidelik die universiteit en die weermag.

Daar is niks soos kontak met mede-eerstejaars wat uit Affies of Hoërskool Waterkloof kom, om jou Oosrand-wortels in perspektief te stel nie. Dis daai ouens gewees wie se pa vir hulle sommer in hul eerstejaar ’n nuwe Golf GTI gekoop het. Ons skool se eerste rugbyspan se wedstryd-truie was vol stiksels soos dit herhaaldelik reggemaak is. Vandag kyk ek na die Pretoriase laerskole, newwer maaind die hoërskole, se professionele rugby-toerusting en splinternuwe truie wat selfs die onder-9's dra, en dan besef ek ons Oosranders was daai tyd reeds tweedeklas-burgers.

Dit was nie net die skole nie. Dis eers as jy op ’n "date" gegaan het met ’n poppie wat in die ooste van Pretoria grootgeword het, dat jou agtergeblewenheid jou naam met ’n plank geslaan het. As haar ma jou vir ete genooi het in hulle grênd woning, was jy in die moeilikheid. Ek was een slag Durban toe saam met ’n meisie wie se pa ’n vername dokter in die stad was en ek weet dus waarvan ek praat. Pasta was vir ons beperk tot spaghetti of macaroni, en kaas tot cheddar of Gouda. Penne? Tagliatelle? Gnocci? Parmesan? Marscapone? Vloek julle my nou? Uiteet was paar keer per jaar by die Wimpy. Dit is nie juis dat ek in ’n besonder arm buurt grootgeword het nie. Dit was bloot dat daar nie juis ryk buurte in die onmiddelike omgewing was nie. Ek kan nie onthou dat een lid van ons familie, ons bure of my skoolvriende ooit met ’n binnelandse vlug gevlieg het nie, laat staan nog oorsee gegaan het nie.

So ook het mens daarenteen agtergekom hoe bevoorreg jy eintlik is, as jy met outjies van arm buurte in die weermag, daardie groot gelykmaker, te make gekry het. Ek onthou hoe een van my troepe sy karige soldy, iets soos R170 per maand, net so elke maand aan sy Appeldammer-ouers wat elke maand by die kamp se heining in hulle stukkende negentien-voertsek karretjie kom wag het, oorhandig het. Daar was ander troepe wat nie kon bekostig om huistoe te gaan as hulle pas gekry het nie, en maar in die kamp gebly het. Wie weet; miskien was die kamp vir hulle selfs lekkerder as hulle huislike omstandighede?

Die punt van bostaande is nie om soos John Cleese-hulle te spog met hoe arm ons kleintyd was nie. Dit is eerder dat ek besonder bebliksemd raak as ek telkens moet lees of hoor hoe bevoorreg blankes kwansuis onder apartheid was, iets wat vir waarskynlik die meerderheid blankes eenvoudig nie waar was nie.

Anton B

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top