Vanoggend dink ek oor STIL WEES. Om 'n boek te lees (of te skryf) moet ek stil wees. Om 'n konsert, 'n verhoogstuk of 'n fliek te kyk, moet ek stil wees. Bybel lees vra ook stilte. So ook gebed en meditasie.
Net om te kyk na 'n stil meer, 'n stil winterstoneel of 'n pragtige sonsondergang oor 'n see uitsig, sus my tot nadenke. Dis so asof die lewe oomblikke van stilte op die rande van my waarneming laat verskyn en dan fluister: "Hier is ek, wat dink jy?"
Ek raak besig en die stilte verdwyn. Ek kom dit skaars agter, want ek val so maklik vir die illusie van besig-wees. He he he he ... dit wat my besig hou, is belangrik. Hoe besiger ek is, hoe belangriker moet dit wees. Ek skrop, vee, vou, was, trek reg, pak weg en maak oop en toe. Werk, werk, jaag, jaag.
Dan se ek uitasem vir myself: "Sjoe, die lewe jaag verby!"
Die waarheid is die teendeel. Die LEWE is stil. Dis ek wat verbyjaag ...
XXX
Kaalvoet Jasmyn


