Bokomo-brekfisbrief; 16/01/09: Tel ''stock car racing'', Papkop?

  • 0

 

 

Kyk, na my Ferrari-ervaring besluit manlief om my bietjie tydens ons Desembervakansie na George se ovaalbaan (dirt track) motorresies te neem. Hy het besef hier is ’n deel van sy vrou se menswees wat nog nooit ontgin is nie. Saterdagaand by die baan kry ons toe lekker sitplekke op die paviljoen reg by die draai. Daar is verskillende klasse. Die gewone beginners in hulle Golfies, Ford Escourts en Opels en so aan. Dan die opgeboude BMW’s, Audi’s en Mercs. Dis ’n ervaring net soos jy beskryf, al die sintuie word betrek. Dis skreeuende enjins, bande en ondersteuners. Dis stofwolke en petroldampe gemeng met braaivleisgeure. Ek raak so opgewonde, die bloed begin vinniger deur my are pomp en as hulle om die draaie skuif, bruis dit sommer van opwinding. Die tannie op die bankie net skuins voor ons, met die yt tanne skree so vir die mekaniek in die middel van die baan dat haar brannewyn en Coke uit haar glas spat en die sigaret amper op die grond val. Dan vloek sy die ou wat wen en skree vir haar favourite dat hy moet regkom. Ek verkyk my so, dat ek amper nie sien wie wen nie.

Dis ’n kompetisie tussen Port Elizabeth en George se motorklubs. Aan die begin van elke resies kies elk van ons groepie ’n kleur kar waarvan ons hou en skree vir die persoon, asof dit hom sou kon help wen. Daar is eers twee uitdunne in elke klas en dan die finale resies. Deurlopende kommentaar word op groot luidsprekers uitbasuin: “Dames en here, nou’s dit die Midgets, oftewel die muggieklas. Dames en here hierdie voertuie is klein, maar getrain” of “Dames en here, ons sê dankie aan ------- Wheel en Tyre, ja dames en here, ------ Wheel en Tyre, hulle borg ons vroulike bestuurder, Tania. Tania is die dogter van Henk, ons kampioen en die eienaar van ------- Wheel en Tyre. Sonder hulle kan ons nie hierdie byeenkomste hou nie. Dankie aan …”

Dan kom die hoogtepunt; die V8’s. Nee, ek kan nie daardie gevoel beskryf nie. Die tot nou toe onderdrukte jaagduiwel in my word wakker. As iemand my daar moet sien sal hulle dink dit moet ’n dubbelganger wees. Die GROOT MANNE, die V8’s, staan by die hek soos bulle wat gereed maak vir ’n stiergeveg en hulle BRUL!

Die lug bibber en vibreer. Dan ry hulle stadig om die baan tot hulle in hul regte posisies is, maar die ingehoue spanning is amper voelbaar. Sodra die robot groen word skiet hulle weg met ’n gedreun. Dis soos bote wat oor die grond druis. Die opwinding bereik ’n crescendo wanneer die geruite vlag waai. As die wenner lus is gooi hy ’n paar “donuts”. Die toeskouers gil van plesier.

Dan klim ons in ons motor en ry besadig huis toe.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top