Bokomo-brekfisbrief; 15/09/09: Ek soek werk, my baas (vir Afrikaan)

  • 0

 

 

So staan ek en Arthur en Hannes en Ivan Jesus en hout kloof. Vir die ryk, verveelde ou spul wittes en bruines en swartes. My arms is seer en my rug pyn. Ek moes hoeka 'n pyp loop aansweis want die verdomde stele wat die Co-op ten duurste verkoop hou verdomp net twee dae, dan slaat jy hom in twee stukke.

Dis in elk geval 'n beter opsie, want as jy die pyp aangesweis het, dan maak jy hom halfvol met lood. Kak op jou arms, maar die hout gee altyd mee. Selfs kwashout breek sonder teenstand in twee pragtige stukke vir vuurmaakhout vir verveelde stedelinge.

Terloops, so ver van die onderwerp af: Het jy al ooit 'n Swartolien of Bashout geruik net nadat jy hom gekloof het? Joop of 5th Avenue se moer, sê ek jou!

My humeur is redelik kort want die werk kom nie klaar nie. En ek hou nie regtig van byl swaai nie. Nie dat dit slegte of "minder" werk is nie, ek hou net nie daarvan nie. Ek is - of dalk is ek nie - in die posisie om te kies waarvan ek hou of nie hou nie. Ek swaai nie byl omdat ek wil nie, ek swaai hom omdat ek geleer is dat jy slegs werk kan uitdeel as jy dit self net so goed kan doen. Buitendien, as die pap dun is en Piet sit in die kaggel, dan loop doen jy wat jy moet.

En hier by die hek kom staan 'n man, nederig. Duidelik vaal van die honger. Hy beduie my: "Baas, ek soek werk". Ek ignoreer hom flat, want ek is net my honde (en wel, kinders) se baas. Ek hoor hoe Arthur hom half beduie (Arthur verstaan net Afrikaans) dat hierdie ou nie hou daarvan as iemand hom "baas" nie. Ek hoor die man praat 'n taal wat ek beter verstaan as Afrikaans. Hierdie man het ver gestap om hier te kom smeek vir werk, synde hier nie veel mense is wat Sotho praat buiten die manne wat by Botlierskop werk nie (en hulle ken ek elkeen by die naam).

Hy beduie weer: "Meneer, ek soek werk." Arthur trap rond soos iemand wat 'n slang gewaar en hom nie lekker kan eien nie.

Nee, beduie Arthur. "Hierdie ou dra nie 'n das nie, jy kannie hom loop en 'meneer' nie. Sy naam is H, hy hou nie van hierdie baas- en meneer-goete nie".

Ek hou my lag in, al wil ek inklim hierso. "Ekskuus, meneer, ek kom vra werk," beduie die man weer. Ek dog: Laat ons nie vir oubaas Apie (dis nou Arthur, my regterhand, synde ek links is) verder in die verleentheid stel nie, en ek los die byl. "Môre, ou maat, ek sien jy's vaal van die honger. Het jy al geëet vandag?"

Hy antwoord nie.

"Arthur, loop vra by Flossie 'n halwe brood en polony en 'n halfliter melk vir die man". Arthur ignoreer my soos my kinders as ek vir hulle beduie om Cartoon network af te sit. Nou sit ek tussen die duiwel en die diepblou see, want ek moet mos wys ek handhaaf gesag hierso. Ek moet mos wys dat ek besluit neem. Maar Arthur verseg.

Later het die man brood en polony en 'n halfliter melk en (dankie tog vir die ruskans, want my arms kan nie meer hou nie) sit ek by hom tot sy gesig begin kleur kry. Hy beduie vir my weereens dat hy ver gekom het en niemand vir hom wil werk gee nie. Hy beduie vir my dat mense dink hy wil hulle rob, so hy is eintlik gefok. Hy het nie ID of references nie. Ek mis nie hoe Arthur en Ivan en Hannes onderlangs brom nie want ons praat 'n taal wat ek geken het lank voordat ek Afrikaans kon praat. Ek en hierdie honger man praat Setswana, en ek hang aan sy lippe, want naas Afrikaans is dit sekerlik die skoonste, mooiste taal ooit deur menselippe gespreek.

Hy kom inderdaad van ver af, en soos ons praat is ek nie meer "baas" of "meneer" omdat ek gestraf of geseënd is met 'n sekere pigment nie. Ek is mens.

En hy is mens. Ek het veelvuldig kere meer as hy, bloot omdat die dice vir my reg geval het om geen ander rede nie. En tog, ten spyte van my aardse geluk en sy obvious bad luck is ek en hierdie broer meer as net mens, meer as net blote padlopers - ons deel 'n liefde vir hierdie rooi aarde.

Ek beduie vir hom dat ek nie regtig nog mense kan inneem nie. Buitendien is die wette hard en duidelik, want kry hy seer en hy't nie ID en al die yada goete nie, is ek gefok as hy moet ongevallekommissaris (is daar nog so iets?) toe. Ons praat my soete taal (Setswana) en ek wil hierdie man sommer my eie kamer aanbied, maar dit sal uiteindelik nie deug nie. Ek stop hom 'n paar Bloues in die hand en beduie hom na 'n boer wat nie 'n harde kyk in sy oë het nie.

Gister was Mokkie hier en hy beduie my dat daar 'n man by hom aangekom het wat werk en blyplek soek. Die man sê ek het hom aanbeveel, so hy't hom maar oornag gegee sonder om vrae te vra. Mokkie sê dat, toe hy vroegdag die koeie moes loop haal (Saterdag neuk dit mos maar), toe staan hierdie man voor sy deur. Mokkie sê hy gaan maar die man 'n huis gee, solank hy net nie die hele familie laat oortrek nie.

Dit, Afrikaan, is die mooi deel. Die lelike deel kom in toe die man wegstap en ek die byl weer raakvat: Want dis toe ek sien hier is 'n "atmosfeer". Jy weet, daardie soort wat jy met 'n bottermes kan sny sonder effort. Ek vra vir Arthur of sy girl hom nou gelos het dat sy gesig so op 'n plooi getrek is. Hy is dikbek. Ek kyk na Hannes, maar hy kyk na die stuk rooipitjie voor hom asof sy verlosser daaruit gaan verrys. Ivan was meer spraaksaam.

Later beduie Ivan vir my dat hulle nie hou daarvan dat ek met 'n K***** boetie-boetie is nie. Hy beduie vir my dat daardie man môre my keel sal afsny sonder om 'n oog te knip. "Want dis hoe die darkies is, H, dis hoe hulle is, ons ken hulle so." Hy beduie vir my dat die "darkies" hulle werk kom vat en hulle môre in die strate moet stap.

Ek het niks gesê nie, net seker gemaak dat ek nie my been raakslaan nie. Want hoe verduidelik jy vir so iemand nierassigheid?

Die antwoord is eenvoudig, Afrikaan, of wie ookal: dit lê hier diep, diep binne-in jou hart. Want Mavenster het ons geleer om nie vel of geld of geleerdheid raak te sien nie. Jy kyk na die mens wat voor jou staan. Jy kyk, en dikwels maak jy 'n fout met jou oordeel, maar die kere wat jy nie 'n fout maak nie, maak tienduisend keer meer op vir die enkele gevalle wat jy moes raakgesien het.

Rassisme? Klassisme? Wat de hel maak dit saak as jy nie eens doodgewone medemenslikheid in jou hart geskryf het nie? Argumenteer ons nie oor kak terwyl ons trotse mense van hul menslikheid ontneem nie? Is die road to hell nie inderdaad geplavei met "good intentions" nie?

Ek vra, want wat ek rondom my sien elke liewe dag, spreek die teendeel, en ek praat nie van leliewit of gitgietswart of ander skakerings rassiste nie. Wel, nie eksklusief nie, anyway.

Groete, soos altyd, uit Oesterland.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top