Harry Kalmer het onlangs verwys na die kuns van die hakawati. Kalmer vertel van sy Libanese gasheer wat hom ingewy het in die kuns van die hakawati, ʼn tradisionele Arabiese manier om ʼn storie te vertel wat altyd begin met "Daar was of daar was nie ...” In dié geval waarvan Kalmer vertel, het dit gegaan oor die hond van die tuinier se bure wat nooit ophou blaf het nie.
Ons het onlangs in Sicilië vakansie gehou en daar was twee honde van die bure wat gereeld kom kuier het. Nou wil ek ʼn storietjie vertel, want op hierdie eiland wat afwisselend deur Grieke, Sarasene, Noormanne, Bourbonne en die Anjou beheer is, het daar iets oorgebly van hulle almal. Griekse tempels, Normaanse wagtorings, akwadukte van die Sarasene uit Noord-Afrika, pronkerige barokgeboue van die Bourbonne en die Anjou.
Siciliaanse Italiaans dra steeds spore van die Arabiese invloed, al lê dit amper 800 jaar terug. Op die markte basiun handelaars hulle produkte uit en prys dit aan met ʼn intonasie van die stem dat mens, as jy nie die taal sou verstaan nie en jou oë toemaak, sou dink jy is in Tunis, 70 km suid soos die kraai vlieg. En dis nou net waar ek die hakawati sommer aan die hare bysleep, al pas dié storie dalk nie so reg in die Arabiese tradisie nie.
“Daar was of daar was nie pastahonde nie”, sou mens dié storietjie kon begin.
Daar was of daar was nie pastahonde nie. Op ʼn berg waar alles wat daar groei soeter is as elders – wat ook die rede is waarom die berg die Arabies-Italiaanse naam dra van gibel dolce – kyk mens af op ʼn Normaanse toring aan die een kant en die vervalle castello van die Anjou aan die ander kant van die spektrum, blik suidwaarts gerig na Gaddafi se ryk. Op die berg is daar baie keffers, regte Siciliaanse steekhare soos mens hulle sou kon verwag in ʼn Pirandello-kortverhaal. Twee van hulle kom kuier gereeld. Die liggeel hond se naam is Diana en haar jongeling Lupo. Diana het sagte bedel-oë wat na bedaarde liefde soek, en liefdevol die bosluise van Lupo se nek afbyt. As dit volmaan is, skyn die klaksteen-vlakte wit in die maanlig, en dis asof Piradello se maansiekheid daar intrek neem. Dis een honde-aria na die ander. Diana is ʼn nimlike sopraan en Lupo ʼn taamlik weerbarstige en opdringerige tenoor met ʼn diep blaf. Lucky van die buurman, die een met die hartseer oë, se stem is weer bietjie skril.
Aangesien die mense so gasvry is in Italië, grawe ek in my geheue na wat ons óns honde wat op besoek kom te ete kan gee. Die reis in tyd terug in die verlede neem my na ʼn era voor dié van blikkieskos vir honde, terug na ons plaas toe in Suidwes, destyds toe dit nog Suidwes was. Ons hond het elke oggend ʼn groot pot mieliemeelpap met kaiings gekry en dit was my joppie om die hond kos te gee. Ek was nog ʼn tjokkertjie en die boxer was my beste maatjie en so het ons dan sy pap ook gedeel. Ek het met ʼn lepel geëet en dan het Boelie ʼn lepelvol gekry. Sy bek het gekwyl en die oë het gebedel, maar hy het geduldig gewag vir sy volgende lepel pap. My ma het vreeslik geraas as sy sien dat ek die hond se pap eet, dus het ek altyd ʼn plekkie gekies waar sy my nie deur die kombuisvenster kon sien nie. Na drie of vier lepels het Boelie in elk geval die res gekry. Dit het hy geweet.
So, dog ek toe: Dis nét die ding vir hierdie twee Italiaanse kuierhonde – polenta! Ek gaan koop geel mieliemeel, ten duurste, maak vir die honde pap, en roer bietjie bacon in, darem nou nie coppa nie! Maar die honde eet so langtand ... Ek dog toe so myselwers – julle boggers!
Die volgende dag vra ek vir die buurman wat Italiaanse honde dan vreet. Nee, sê hy vir my, die honde vreet hondenoedels ... pasta per cane.
Ek wonder oor hierdie sonderlinge Italianers wat selfs spesiale noedels vir honde het. In my dag des lewens het ek nog nooit van so iets gehoor nie! Welke briljante besigheidsidee dog ek toe so by myselwers. In my geestesoog visualiseer ek noedels in die vorm van bene wat smaak na hoender of bees of iets in daai lyn. Iets vleiserig om hulle aptyt te wek. Dalk kom hierdie hondepasta nog in vindingryke vorm-variasies soos poedels of terriërs sodat mens kan sien watter honde dalk ʼn voorkeur het vir welke noedels. Hoe meer ek daaroor nadink, hoe meer inspireer die idee van hondepasta my! Toe ons weer gaan inkopies doen, loop ek die rakke op en af in die supermark en kyk uit by die hondekos vir hondepasta, maar vind niks dergliks nie. Miskien is daar ʼn spesiale troeteldierwinkel waar mens dit koop, dog ek heel teleurgesteld.
By die volgende geleentheid wat ek en die buurman weer in mekaar vasloop, vra ek hom wáár mens dan sulke hondepasta kan koop. Hy lag tog te lekker en sê: Nee wat, dis sommer gewone pasta, die goedkopes.
En net dat julle my glo, hier is die bewys dat honde in Italië pasta vreet!

Om dus tot die hakawati toe terug te kom: “Daar was of daar was nie pastahonde nie. In elk geval is dié honde nie Chinese honde nie, anders moes hulle ryshonde wees ...”
Tot op ʼn ander dag.
Krautie


