Party mense moet kinders hê, ander moet nooit eers daaraan dink nie.
In watter groep val jy?
En nog belangriker, in watter groep val ek?
Daar is dinge wat vir jou ʼn vooruitskouing kan gee oor hoe jy as ouer sal optree. Ek kyk hiernaas na my eie oomblikke van waarheid. As honde party mense se kinders is, dan spreek my hantering van die dierasies boekdele oor my vermoë as ʼn toekomstige vader.
My ouers is weg vir die langnaweek. Ek is opgekommandeer om na die honde in die huis te kyk. Ek mis menigte partytjies of uitgaangeleenthede in Kaapstad, waar ek sou kon handuitruk, dit alles net om hierdie voogdelike pligte van my te ontduik.
Glip uit, sê jy? Ek durf nie weer in die aand die 100km terug Kaapstad toe ry om vinnig uit te gaan nie, want die vorige keer toe ek uitgeglip het, is ons buurman aangeval. My ma noem dit later aan my: “Oom Andries sê hy het geskree om hulp, dis nogal snaaks; niemand het iets gehoor nie.”
My ouers is liewer vir hul Jack Russels as wat hulle vir my en my suster is. Hulle word die land vol saamgeslenter en dít as volwaardige toeriste. Hulle kan egter nie hierdie keer saamgaan nie. Ek is seker my ouers se vriende dink dit is “weird” dat mense hulle honde so kan liefhê, maar ek kan dit nogal insien. Hulle is lief vir my ouers en hul al vier deel ʼn bed. Die honde bied seker emosionele sekuriteit. Dis ʼn droomverhouding.
As iemand wat graag kinders wil hê en so gou as moontlik ook, sien ek gewoonlik daarna uit om na die honde om te sien. Dit is my kans om huis-huis te speel. Ek is die pa en hulle is die kinders! My verhouding met hulle kan egter net as ʼn toonbeeld van verdraagsaamheid beskryf word. Ek stap by die huis in en ek groet die tweetjies vriendelik, hulle is bly om my te sien en dan gaan lê hulle weer verder in die son. My suster kom êrens in die dag in en hulle hardloop dan die res van die dag agter haar aan. Sy is egter nooit die een wat vir hulle kos maak nie, ek is.
Tog, as hierdie die Big Brother-huis was, sou hulle my onmiddellik uitgestem het. As dit aand se kant toe staan, begin die ongemaklike scenario van wie die kos gaan maak, hom afspeel. Ek weet die honde haat my hieroor. Ek sny die dikste repe kaas om hulle te voer en om hul magies stil te kry. Hulle eet dit, maar ek weet hulle sal dit onthou. My suster is weer nêrens te vinde tydens hul etensuur nie; dus word die wrok nie teenoor haar gekoester nie. Ek gaan slaapkamer toe. Na ʼn uur se geroep sluit die honde hulle by my aan, in my enkelbed. Die ander gesinslede hoef net op te staan en die brakkies is aan hulle sye. Dit kos my egter liefkosing, omkoop en afpersing om hulle in my slaapkamer te kry.
Vandag is dag twee. Ek het die stryd opgese. Ek is nie seker of hulle vandag van hulle pille geëet het nie, maar dit is in elk geval ʼn arbitrêre feit. Hulle wag vir rêrige kos. Ek het die kaas al twee keer vandag uitgehaal en gesny. Maar nou is dit kosmaaktyd, ʼn ou pasta-ietsie. Ek is nie mal oor pasta nie en ek is ook nie mal oor maalvleis nie, maar ek vermoed die honde hou daarvan, selfs al glo my pa die honde eet nie sulke “common” kos nie.
Ek het tot dusver die huis uit die storie gelaat. Die huis het binne ʼn dag verval. Ek het my hare in die badkamer geknip en dit nie weggespoel nie. Die koerante lê rondgesaai en daar is krummels op die kas en die vloer. Daar is ook iets wat soos semen lyk op my T-hemp. Dit kan kwyl ook wees; ek kan nie onthou nie. As ek slaap dan slaap ek.
Die klere van gister het begin muf in die wasmasjien. My ma se “huishulp” het nie opgedaag nie. Ek is geensins van plan om haar te loop soek nie.
Die feit dat ʼn mens iemand moet hê om agter jou skoon te maak, laat my in elk geval baie ongemaklik voel. As Wilhelmien ʼn afdag wou gehad het, dan gun ek haar dit. Bygesê, sy werk een keer ʼn week by ons en kry óf R150 óf R130 vir ʼn halwe dag se werk. Nie te sleg nie, dink ek. Ek het menige male al aangebied om self die huis skoon te maak, maar my ma-hulle weet net so goed soos ek dat ek nie die “spaces in between” sal bykom en/of wil bykom nie.
Terug na die belangrike vraag wat hopelik al deurskemer en wat ek myself elke naweek (wanneer ek die huis oppas) afvra: Mag ek ʼn pa word? Sal ek as ouer onmiddellik groot word sodra my vrou/surrogaat/eier-donateur my die broeiseltjie in die hand stop? Kan dit gebeur? Ek is bereid om die kans te waag, maar ek moet verder noem dat ek 24 is en nog op universiteit is. Sal dit my genoeg tyd gee om die kind groot te maak, hom weg te hou van die televisie/slegte mense/dinge, hom te dwing om boeke te lees, hom groot te maak in Afrikaans en later ʼn meester van die Engelse taal te laat word? Het ek tyd vir dit alles – Kan/Mag ek ʼn pa word?
Ek sal nie ʼn vrou hê om my te kan help met die kindersorg nie. Hier is die rede daarvoor. Ek bestudeer jong gesinne, trouens, ek bestudeer al hul bewegings en selfs die uitdrukkings op hulle gesigte. Binne ʼn jaar nadat die kind gebore is, lyk die jong moeder soos Monique Strydom met haar terugkeer uit die Filippyne. Moeg, verslane en moedeloos. Die man in die verhouding lyk nog net soos tevore. Die verhouding dwaal af in ʼn cul-de-sac van kla-ryke monoloë waar die een nie na die ander luister nie en waar albei mekaar haat. Dog albei partye stry dat dit nie hul liefde vir die kind affekteer nie (?). Ek wil nie ʼn verslane vrou hê nie.
Nog iets wat by my spook oor die moontlikheid van kind kry, is die verantwoordelik wat daarmee saamgaan. My ondervindinge by ʼn ouetehuis waarby ek in Brittanje gewerk het, het my laat besef dat geduld die sleutel tot enige suksesvolle “oppas-verhouding” is. Ek vrees nie sielkundige afwykings of gedragsprobleme nie. Ek is nie van plan om my kind in die openbaar te wiks nie. Ek sal stilletjies glimlag en oogknip vir omstanders. Ek sal hulle laat probeer besef dat dit maar die normale gedragspatroon van alle kinders is.
Wat my bang maak is dat ek hom êrens in ʼn winkel sal vergeet of heel moontlik op vakansie sal gaan, en dan eers op die vliegtuig tot die besef sal kom dat hy nog in die booster chair by Spur sit. Dan is daar nog my depressie ook ...
Dalk ʼn kind in 2010?
Charl Linde


