Riana Scheepers ek dink niks minder van jou as voorheen oor jou gruwelike woord nie. Ag natuurlik is dit ’n vieslike woord en ek voel net soos jy daaroor, maar selfs vir my is dit in konteks net eenvoudig soms so snaaks. Per toeval is dit sommer spreektaal in sekere dele van die gemeenskap.
Ekself moes nou die dag ingryp toe ’n boetie en sussie in die spreekkamer haaks raak oor die speelgoed wat ons voor in my spreekkamer verskaf. Die goedjies kan skaars praat en Sussie lispel nog maar vloek-vloek sy vir Boetie. Hier teen die sesde p…s, kan ek dit nie meer hou nie en hang oor die toonbank en verseker hulle ek gaan hulle goed voeter want dit is nie toelaatbaar in my spreekkamer nie. Hulle kan dit by hulle huis sê maar nie by my plek nie.
Teen daardie tyd het Tannie Wollie se bloeddruk die plafon verskuif. Oom Watts se suiker het geklim dat hy soos ’n gaar beet lyk. Een ordentlike mamma sê vir haar kinders: “As julle so sê slaat ek julle dood.” Maar ander mamma sê net rustig: “Sies Meluscka, sies Shaunie.”
Weke later is hulle weer daar en eerste ding wat Shaunie my verseker toe hy met sy snotneus inkom is dat hy nie gevloek het in my “huis” nie.
’n Vreeslike oulike storie is toe my vriendin, prim en proper, se twee voortande uitval en sy nog moet wag vir haar plaatjie. Op daardie stadium is haar kombuis afgebrand en die hele huis stink na rook en roet en vernietiging. Dit was juis in haar haas om te red wat sy kon red dat sy gegly en haar voortande verloor het. Sy is vreeslik skaam en hou hele tyd haar hand voor haar mond as sy praat. So land sy by my in die huis tot die versekering die nodige herstelwerk gedoen het.
Iewers in daardie tyd besluit my eks om my aan te rand en sy kom daarop af. Hy was veronderstel om al uit die huis te wees, maar verseg. Ek moet hof toe om hom uit te kry met ’n uitsettingsbevel al is ons al jare geskei. Bloedsuier is darem nog net op die dreigstadium, maar goed op pad om heeltemal beheer te verloor. Sy gil op hom dat hy nie aan my sal raak nie. Oor en weer vlieg die woorde en sy word so kwaad dat sy gil: “Jy’sh ’n poesh man. Ag jesish, nou kan ek nie eers poesh sjê nie.” En sy gryp na ’n slaanding en al wat sy in die hande kry is ’n elektriese boor waarmee ek en sy die middag gewerk het.
Dit is so ’n intense situasie, maar skielik moet ek gaan sit soos ek lag. Sy is ’n voorste kerkvrou, ’n Christin wat haar geloof uitleef, ’n fyn vrou en skielik dit. Sy is klein gebou en lyk soos ’n spacemuis met haar powertool. Dis nou ’n ware vriendin!
Ek vertoorn haar nou-nog daaroor. Dan bedank ek haar kamma vreeslik, want sy het Eks sommer weggevloek en weg “geboor” want hy het nog daardie nag getrek. Daai word het my baie regskoste gespaar.
Dankie vir jou verhaaltjie. Ek dink dit is kostelik.
Douwlina du Plessis


