Ek swoeg kreunend, as deel van my reeds-verlore en futiele stryd teen die vetsug, op die been-boudmasjien by die Virgin Active. Een van my mede-oefenaars, wat ek gereeld daar sien, sien dat ek ’n Vrystaat-hempie dra. My gespreksgenoot is kort en dra ’n brilletjie. Ek het hom al voorheen ook by die Standard Bank hier naby ons gesien. Hy is heel vriendelik en begin uit die bloute met my gesels. Ek het om ook al voorheen gesprekke sien voer met ander lede van die Virgin Active. Duidelik het hy ’n vriendelike en innemende persoonlikheid.
Hy is ook klaarblyklik ’n Vrystaat-ondersteuner, want in Engels meen hy dat dit vanmiddag nou of nooit is vir “ons” – die Cheetahs – nie. Ons praat oor hoe die Vrystaat ongelukkig was om laasweek teen die WP te verloor, en veral hoe die Bulle uiters gelukkig was om twee weke gelede teen hulle te wen. Ek hou eintlik ook van die Bulle, synde iemand wat op Tuks was, maar bly eerder stil daaroor, want die gesprek is alreeds surrealisties genoeg. As hy maar net geweet het, dink ek, en probeer hard om nie telkens uit te bars van die lag, gegewe die banale maar bisarre aard van die gesprek nie.
Later knik ons vriendelik vir mekaar die kop terwyl ons beide op die maag-masjiene sweet.
Die kort outjie met die brilletjie heet Jimmy Manyi.
Anton B

