... en almal met harte.
Karin, jou vraag oor die setel van ons siel, het my in groot behae die Versamelde werk deel 1, van Eugéne N Marias, uit my rak laat haal.
Vergewe my lysie van top boeke die anderdag, maar Eugene Marais, tel verseker ook in my top tien. Dis bykans onmoontlik om in enige sinopsis die kosbare omvang van sy werke te beskryf. Sedert jou vraag, het ek totaal weggesink in Die siel van die mier.
Dis moeilik om iets besonders daar uit te sonder wat jou vraag sou kon beantwoord. Elke woord in die werk is iets wonderbaarlik.
In hoofstuk vier van Die siel van die mier, vra Eugene in sy opskrif: Wat is die siel?
Eugéne stel dit so: Wat in die wetenskap "siel" genoem word, is iets geheel en al buite die bereik van al ons sintuie. Geen mens het nog ooit ‘n siel (of ‘n stukkie van ‘n siel) geruik, gesien, gesmaak, gehoor of gevoel nie. Daar is twee maniere waardeur ons op die spoor kom van ‘n siel. In ons eie binneste kan ons deur selfondersoek iets gewaar wat nie ‘n tasbare deel van ons stoflike liggaam uitmaak nie. Hierdie gewaarwording is natuurlik beperk tot ‘n deeltjie van my eie siel. Die siel van my broer is net so ver buite my bereik as die siel van die mier. Ek moet die bestaan daarvan op hoorsêgetuienis aanneem. Introspeksie is dus een bewysrigting waardeur ons by magte is om die bestaan van die siel te konstateer.
Verder in die hoofstuk: Ons eie siel is natuurlik die kriterium waardeur ons in staat gestel word om die bestaan van ‘n doel te konstateer. Die eg logiese mense mag nie met hierdie deel van ons definisie tevrede wees nie, maar vir die praktiese natuurondersoeker is dit voldoende.
Eugéne gaan voort met sy eksperimente op miere, en kom tot die gevolgtrekking: Daar het jy nou wat bedoel word wanneer die sielkundige sê dat die instinktiewe siel die erflike gedrag nie wysig nie, en g'n individuele kousale herinnering kan opdoen nie. Ons het ook gesê dat die siel van erflike herinneringe ‘n dwingeland is wat die dood self nie kan keer as dit gedrag vereis wat teenstrydig is met rasherinnering nie.
Eugéne beskryf nog voorbeelde wat sy stellinge staaf, en kom dan uiteindelik by: ‘n Mens sien dus dat die natuur by die bobbejaan twee dinge verrig het: hy is in besit van ‘n siel wat in staat is om individuele kousale herinnering op te doen en ten tweede, sy erflike geheue is vernietig. So ver is dit al by hom gevorderd dat daar in vyftig persent van gevalle g'n erflike oriëntering van die seksuele sin is nie - die mees erflike van al die sielstoestande. By die mens is daar g'n erflike oriëntering meer nie. Die oreksis mag ontwaak, maar die oriëntering is by albei geslagte ‘n saak van leer.
Dan vra hy: Hoe het hierdie eienaardige verandering in natuurlike gedrag dan tot stand gekom? In die eerste plaas moet daar die een of ander groot rasvoordeel in opgeslote wees. Die leser sal dadelik insien dat die groot uitwerking van die siel van erflike geheue is om ras tirannies vas te knoop aan een spesiale omgewing; die pikkewyn aan die see, die klipspringer aan die berge ... Hoe meer volmaak die erflike herinneringe is, des te meer eng is die omgewing waaraan die organisme verbonde is. Dit is al wat die natuurlike uitsoeking teweegbring.
Eugéne borduur verder op sy wonderlike wyse voort oor ruiling ten koste van ‘n volmaakte ideaal; alles in ‘n proses van onvolmaakte evolusie.
In die slot gedeeltes van sy hoofstuk wat handel oor "Wat is die siel?", deel Eugéne hierdie kosbare gedagtes: Die mens het in hierdie rigting die verste gevorder - daarom is dit dat die mens in die grootste en dorste woestyne (die Gobi en die Sahara), op die hoogste gebergtes, die diepste valleie, die trope, en die Poolsee-ys ingedring het - en lewe.
Maar die natuur gee niks persent nie. Soos ons aangedui het, is dit altyd ‘n ruiling. Die ape en die mens het ‘n ontsettende prys vir hul nuwe soort siel betaal - ‘n prys wat stellig en gewis hulle natuurlike ondergang binnekort (dit wil sê kort as natuurtydvak beskou) moet teweegbring ...
Net een woord nog oor die siel van individuele kousale herinnering. Die ou dieresiel van rasherinnering (by hoër ape en die mens) word nie vernietig nie. Dit word deur ‘n vorm van permanente inhibisie buite werking gestel. Maar dit is nog alles daar en kan kunsmatig weer gedeeltelik in werking geroep word ...
Langs hierdie reuse-omweg het ons nou tot ‘n punt geraak waar ons met ‘n reine gewete die gemeenskaplike siel van die miere kan beetpak.
Hindoe-Moslem-Katolieke-groe(n)te ... brul die leeu ...
Cornelius Henn


