Oom Albrecht is vanmôre lelik omgekrap. Dis nou al dae dat sy hoed sommer so tussen neus en ore spoorloos verdwyn het. Hy is nie eens lus om kerk toe te gaan nie. Doelloos ry hy deur die strate, want Bettie, sy wederhelfte, het al weer hoofpyn en wou nie saamkom nie.
Dis toe hy by die Dopperkerk verby ry dat 'n blink gedagte deur sy kop flits. Hy sal stilletjies by die kerk se kleedkamer inglip en vir hom 'n hoed steel.
In die voorportaal hoor hy nog hoe die gemeente "want ramp en onheil is naby" kreun. Kort daarna volg daar 'n gedruis soos almal gaan sit en die orrel nog sy laaste draaie maak.
Duidelik hoor hy oor die luidspreker hoe die dominee die Tien Gebooie lees en lustig begin hy daaruit preek. Oom Albrecht is verslae. Stadig sit hy die pragtige Battersby netso terug in sy hokkie, en staan versteen die hele preek deur oopmond en luister.
Na die diens stap hy na die dominee toe om hom geluk te wens met sy skitterende preek. "Dominee, ek het met sonde in my hart gekom. Ek wou vir my 'n hoed steel, maar na ek na jou geluister het, het ek besluit om dit nie te doen nie," stotter die oom.
"Ag, Broer, ek is bly vir jou onthalwe," sê die dominee trots, "en watter deel van my preek het Broer bekeer?"
"Toe Dominee daar kom by ‘jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie,' Dominee, toe onthou ek mos waar my hoed is."
Groete
Angus


