Bokomo-brekfisbrief; 15/01/09: Oor 'Oom' en 'Tannie'

  • 0

 

 

Dis nou al heelwat jare terug (bliksem, tyd vlie darem!) wat ’n veel jonger ek en Mevrou Papkop in jooltyd deur Petoorsdorp ry. Eerstejaars op elke hoek. Verkoop Joolblaaie. (Is daar nog Jool en Joolblaaie?)

Mevrou Papkop, ook ’n produk van Tukkies, is nog besig om te vertel hoe sy dan self nou die annerdag nog Joolblaaie moes verkoop, toe so oulike eerstejaar–poppie haar kop omtrent binne innie kar by my venster insteek. Die dingetjie "flash" ’n pragtige smile. Ek smile ewe terug (oor ek vriendelik is mos) en merk nie eers op lat Mevrou Papkop se storie darem nou wreed onderbreek word nie.

Toe vra Poppie liefies: "Wil Oom nie ’n Joolblad koop nie?"

My kop spin. "Hmnsgrrtp!?" antwoord ek vervaard (die volle omvang van my woordeskat op daai stadium). My voet gly van die koppelaar af en die kar ruk–ruk so ent vorentoe voordat dit summier vrek. Met bloedrooi ore kry ek die verdomde ding weer aan die gang, vroetel so bietjie agter die regte rat aan en hervat vernederd my reis. Weet nie wat vannie poppie geword het nie. Gee ookie om nie.

Dis egter my teer beminde eggenote wie se reaksie my die meeste ontstel. Sy het nie maar bloot geskaterlag nie. Kraai beskryf dit ook nie naastenby nie. Ek dink trouens nie enige dame behoort eintlik tot só iets in staat te wees nie. Elke keer wanneer sy so bietjie asem geskep het (en ek hoop dat sy nou tot haar sinne gaan kom) dan prewel sy: "Oom" en dan trek sy weer van vooraf los.

Tussendeur probeer ek in haar kop kry dat die meisie bloot ’n tongglip gehad het, of lat sy nie so mooi kon sien binne innie kar in nie of so. Ek meen my bachelor–pel, Haas, date dan nog steeds eerstejaars! Haas het so bietjie stadiger omgegegaan met die akademie as die meeste van ons en het (hoewel as buitemuurse student teen daardie tyd) dus steeds toegang gehad tot dié bron.

Teen die tyd wat ons by die volgende groot kruising kom is Mevrou wel stiller, maar nou lyk dit al kompleet of sy huil. Die skouertjies ruk elke nou en dan en die trane word ewe met ’n sneesdoekie weggepink.

Dis toe dat so varsgesig knaap by haar venster inloer en vriendelik verneem of "Tannie nie dalk ’n Joolblad wil koop nie?"

Daar's so oomblik geskokte stilte voor ek tot verhaal kom. ’n Lááng oomblik waarin ek sien hoe Mevrou se rooigelagte gesiggie tot spierwit verkleur terwyl ’n geskokte vraagteken daarop verskyn. Teen die tyd dat die vraagteken plek maak vir so vies frons en daar sulke blitse in die groen oge kom (beter aan my bekend as 'Die Kyk') is dit te laat. Ek's klaar in aksie.

Kar afgeskakel en uitgeklim. Net daar innie verkeer. Fokkie Petoorjaners vandag. Ek's klaar besig om met die knaap te onderhandel: "Boetman, hoeveel wil hy hê vir daai hele pak Joolblaaie van jou?"

Papkop

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top